Mediese breekspul dreig oor Covid-19-inentings

Sommige wetenskaplikes sê dit lyk of senior amptenare draaie gooi om die beskikbaarheid van entstof. (Foto: Lindsey Parnaby/AFP)

In die aanloop tot Woensdag se vergadering van die nasionale koronavirus-bevelsraad dreig ʼn breekspul in mediese geledere oor Suid-Afrika se inentingsplanne teen die virus.

ʼn Vertrouensgaping blyk aan die opbou te wees tussen die regering en verskeie van die land se bekendste progressiewe kenners van aansteeklike siektes en siektebestuur.

In ʼn ope brief wat deur nege toonaangewende mediese wetenskaplikes onderteken is, kom hulle baie naby daaraan om te sê die regering lieg oor enige planne of strategie om Suid-Afrikaners teen die virus in te ent. Hulle voer ook aan dit lyk of ʼn toesmeerdery aan die gang is om pligsversuim wat duisende lewens kan kos, te versluier.

Die sterk bewoorde ope brief is onderteken deur dr. Aslam Dasoo, sameroeper van die Progressiewe Gesondheidsforum, prof. Glenda Gray, president van die Mediese Navorsingsraad, prof. Guy Richards van Wits, prof. Marc Mendelson van die Universiteit van Kaapstad, dr. Fareed Abdullah van die Mediese Navorsingsraad, prof. Francois Venter van Wits, prof. James McIntyre van die Universiteit van Kaapstad, dr. Adrienne Wulfsohn van die Inkosi Albert Luthuli-hospitaal in Durban, asook prof. Alex van den Heever van Wits.

Die argumente wat hulle aanvoer resoneer met die kommer van verskeie ondersoekende joernaliste wie se navrae oor Covid-gesentreerde kwessies, veral entstof, die afgelope weke deur die departement van gesondheid beantwoord word met beloftes van ʼn inligtingsessie wat telkens onbepaald uitgestel word.

In die ope brief sê die mediese wetenskaplikes senior amptenare gooi draaie om die beskikbaarheid van entstof. Hulle wys uit dat die onophoudelike en uitputtende aard van die pandemie besig is om gesondheidstelsels en -werkers uit te put – plaaslik en internasionaal.

Hulle stel dit dat hierdie die grootste openbare gesondheidskrisis in die moderne geskiedenis is, en die enigste wapen daarteen is inenting. Meer as 40 lande wêreldwyd het nou al met massa-inenting begin, en selfs dan sal dit maande duur voordat die pandemie oorwin kan word.

Vir armer lande is die Covax-ooreenkoms om entstof te verkry die beste alternatief, gaan hulle voort.

Hulle stel dit as ondenkbaar dat Suid-Afrika in sy huidige situasie is want “ten spyte van die beste pogings van korrupste politici” is Suid-Afrika nie ʼn arm land nie.

Voorts voer hulle aan dit lyk uit beskikbare inligting nie asof daar ʼn inentingsplan of ʼn volhoubare entstof-voorsieningsplan is nie. Hulle stel dit dan dat hierdie gebrek aan voorsorg Suid-Afrika suur gaan bekom en dat dit op die oog af vergelykbaar is met die ontkenning dat antiretrovirale middels doeltreffend is teen MIV/vigs. ʼn Herhaling daarvan kan volgens die mediese wetenskaplikes verskriklik wees.

Hulle verwoord ook hul kommer dat selfs nou, met tientalle lande, ook in Afrika, wat die nodige doen om entstof in die hande te kry, Suid-Afrikaanse amptenare al minder duidelik rigting gee oor die beskikbaarheid van entstof in Suid-Afrika en selfs die nut daarvan bevraagteken.

Die mediese wetenskaplikes spreek veral hul diepe kommer uit oor die mees onlangse regeringskommunikasie in hierdie verband en sê prontuit dit lyk nie asof die regering planne gereed het of oor ʼn strategie beskik nie.

Hulle beweer die kommunikasiestrategie lyk na ʼn toesmeerdery en dit lyk asof die plan is om die bevolking se verwagtinge oor inentings te verminder.

Die wetenskaplikes bevraagteken die eerlikheid daarvan dat die regering beweer hy wou nie met onderhandelinge begin voor hy weet watter entstof werk nie. ʼn Mens sluit juis ʼn ooreenkoms vir die gebruik van ʼn entstof om in die toekoms gelewer te word sodra dit bewys is dat dit werk, meen die groep wetenskaplikes.

Hulle voer aan dit laat ʼn mens wonder of senior amptenare besef wat dit verg om só ʼn deurslaggewende portefeulje soos gesondheid te bestuur.

Stellings deur amptenare soos dat entstof nie ʼn kitsoplossing is nie en dat entstof nie ʼn pandemie kan keer nie, is volgens die wetenskaplikes gevaarlike onsin.

Hulle stel dit dat dit lyk asof Suid-Afrika die geleentheid om entstof te bekom verspeel het en nou die skade probeer beheer, want duisende mense gaan as gevolg hiervan sterf.

Die wetenskaplikes konstateer dat hierdie ʼn tydperk van eksistensiële bedreiging is, maar dat daar nie eens ʼn plan is om die mediese werkers te beskerm wat terselfdertyd die meeste aan die virus blootgestel is en die sekerste verdedigingslinie daarteen vorm, te beskerm nie.

In die aanloop tot die vergadering van die bevelsraad Woensdag dring die mediese wetenskaplikes dus daarop aan dat Suid-Afrikaners die waarheid moet hoor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.