Mediese praktisyns tydens klopjag vasgetrek

Argieffoto (Foto: DarkoStojanovic, Pixabay)

Johannesburgse owerhede het tydens ʼn klopjag op ʼn mediese sentrum agt mediese praktisyns in hegtenis geneem, het die Raad vir Gesondheidsberoepe van Suid-Afrika (RGBSA) Donderdag gesê.

Die RGBSA het gesê die agt praktisyns is by die Lister Mediese Sentrum in Johannesburg in hegtenis geneem omdat hulle onwettig praktiseer. Die inspeksie is in samewerking met die Valke, die medisynebeheerraad, die Padverkeerbestuurskorporasie, Medscheme en Discovery Health gedoen.

Daphney Chuma, woordvoerder van die RGBSA, het gesê twee mans is in hegtenis geneem omdat hulle onderskeidelik as tandarts en tandterapeut gepraktiseer het hoewel hulle nie by die raad geregistreer is nie. Volgens Chuma het die mans onder die naam en praktyknommer van ʼn ander dokter by die raad gepraktiseer.

Van die ander dokters het gepraktiseer hoewel hulle van die RGBSA geskors is omdat hul jaarlikse fooie nie betaal is nie. Nog twee vroue wat nie by die RGBSA geregistreer is nie, het as radiografiste by ʼn dokter se praktyk gewerk, terwyl nog ʼn dokter gepraktiseer het onder die naam en registrasie van ʼn ander dokter wat wel by die raad geregistreer is.

“Tydens ʼn vorige inspeksie in Vereeniging op 26 September 2017, is ʼn man vasgetrek wat as dokter praktiseer sonder dat hy by die RGBSA geregistreer is. Hy het toe egter daarin geslaag om te ontsnap. Hierdie keer is hy in hegtenis geneem,” het Chuma gesê.

Daar is tydens die klopjag ook op twee Kongolese burgers afgekom wat hulself as dokters voorgedoen het. Die vrou het egter tydens die operasie daarin geslaag om te ontsnap, terwyl die man in hegtenis geneem is. Agt verdagtes is na die Johannesburg Sentraal-polisiestasie geneem.

“Die RGBSA is baie streng om te verseker dat onwettige praktisyns nie praktiseer en die lewens van die publiek in gevaar stel nie. Mense wat hulself as mediese kenners voordoen kan ernstige gevolge vir die publiek inhou,” het Chuma gesê. “Die publiek word gewaarsku om nie by ongelisensieerde praktisyns vir mediese hulp aan te klop nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.