Mediese skemas maak 2022-premies bekend

gesondheid-loopraam-bejaarde-siek

(Foto: Rawpixel/Unsplash.com)

Mediese skemas het onlangs hul aangepaste premies vir volgende jaar bekend gemaak, met langtermyn-volhoubaarheid en korttermyn-bekostigbaarheid wat as dryfvere agter die aanpassings beskryf word.

Die Raad op Mediese Skemas (RMS), reguleerder van die siekefondsbedryf, het ʼn verhoging van 4,2% – in ooreenstemming met die tesourie se geskatte styging in verbruikersprysinflasie – aanbeveel en skemas versoek om hul verhoogde reserwevlakke te gebruik om premies te subsidieer. Reserwes het gedurende die 2019-’20-boekjaar met 10,37% toegeneem en solvensie ook met 3,10%.

Die RMS het ʼn beroep op skemas gedoen om hul prysvasstellingstrategieë aan te pas om hul lede finansieel te ondersteun te midde van die moeilike ekonomiese toestande wat die Covid-19-pandemie teweeg gebring het en om innoverende prysmodelle te ontwikkel.

Slegs drie skemas het die RMS se aanbevole teiken behaal.

Bestmed se premie vir 2022 styg met 3,9% en Momentum sʼn met 2% oor die jaar bereken, terwyl Medihelp sy premies afwaarts met -0,45% aangepas het.

Volgens Marie de Wet van die konsultasiemaatskappy CMAC spruit dié besluit waarskynlik voort uit die skema se goeie reserwes en die vooruitskatting van lede se behoeftes in die komende jaar.

Danksy goeie reserwes nadat beplande prosedures uitgestel is, verhoog Momentum, Fedhealth, Discovery en Profmed aanvanklik nie hul premies nie, maar wel later volgende jaar – Fedhealth en Profmed op 1 April met 7,4% en 8,96% onderskeidelik, Discovery op 1 Mei met 7,9% en Momentum op 1 September met 6%. Dit bring dié vier skemas se verhoging oor die jaar bereken onderskeidelik op 5,5%, 6,8%, 5,3% en 2% te staan. Bonitas se premie verhoog met 4,8% vir 2022.

Skemas moet elke jaar ʼn balans vind tussen hul vooruitskatting van lede se eise en hoeveel van hul reserwes hulle moet opoffer.

“As daar ʼn pandemie uitbreek, moet mediese skemas genoeg reserwes hê om dit te finansier,” verduidelik De Wet.

“Die laaste Covid-19-golf het duur eise tot gevolg gehad. Dit het daartoe gelei dat sommige skemas konserwatiewe verhogings aangekondig het, soos Discovery Health, Momentum en Bonitas. Hulle moes ʼn drastiese verhoging in eise gesien het,” voeg sy by.

Die koste van gesondheidsdienste sal na verwagting volgende jaar gemiddeld met 4,4% toeneem, na aanleiding van die geskatte verbruikersprysinflasie vir 2022. Die geskatte mediese inflasie vir volgende jaar is 7,9%.

Covid-19 skep onsekerheid

 Covid-19 het natuurlik ʼn groot invloed op mediese skemas en hul beplanning. Namate die trajek van die pandemie in die komende maande ontvou, sal sommige skemas ʼn skerp styging in duur eise sien, hoewel die algehele ekonomiese koste van die pandemie op die bedryf steeds onseker is.

Die individuele finansiële posisie van elke mediese skema voor die pandemie getref het, sal bepaal of die skema die duur eise wat met Covid-19 verband hou, kan absorbeer. Die RMS glo dat skemas met genoeg reserwes die verhoogde aanvraag sal kan absorbeer.

Die uitwerking wat sogenaamde “lang Covid”, wanneer simptome steeds voortduur 28 dae nadat Covid-19 gediagnoseer is, op skemas gaan uitoefen, is ook nog duister.

Covid-19 het ook veroorsaak dat daar minder ander operasies plaasgevind het en mense minder dokter toe is oor ander gesondheidsprobleme. Sodoende het die pandemie mense se gedrag rakende gesondheidsorg verander.

Bianca Viljoen, direkteur van produkontwikkeling by Agility Health, verduidelik dat ander gesondheidskwessies nie in die niet verdwyn het toe Covid-19 sy opwagting gemaak het nie, selfs al is daar nog nie eise daarvoor ingedien nie.

“Prosedures wat lank uitgestel is, soos knie- en heupvervangings, en gesondheidsuitgawes wat met die komplikasies van swak beheerde kroniese siektetoestande verband hou, sal weer toeneem en kan pre-pandemievlakke verbysteek.”

Hoewel die uitwerking van die pandemie vir baie onsekerheid sorg, beklemtoon die RMS dat dit ʼn mediese skema se primêre plig is om te verseker dat hy genoeg bates het om aan lede hul voordele te betaal. Hulle stel ook voor dat stygings in nie-mediese uitgawes, soos administrasie, konstant op 2021-vlakke gehou moet word.

“Die RMS meen dat dit onvanpas is vir mediese skemas om hul lede met skerp premieverhogings te belas in ʼn ekonomiese klimaat wat deur laer korporatiewe winste, groter regeringskuld, stygende werkloosheid en krimpende huishoudelike inkomste gekenmerk word.”

Verantwoordelik vorentoe?

 Viljoen verduidelik dat ander lande se regerings die koste van die pandemie tot groot mate gefinansier het. “In Suid-Afrika is ʼn groot deel daarvan deur mediese skemas gefinansier. Dit spreek van die waarde wat hierdie bedryf aan ons land toevoeg, asook die belangrikheid om te verseker dat dit volhoubaar en mededingend bly.”

Volgens Viljoen is dit kommerwekkend dat sommige mediese skemas volgende jaar se gesondheidsbehoeftes onderskat en sodoende hul premies die daaropvolgende jaar drasties sal moet verhoog.

“Selfs meer kommerwekkend is dat die metode van mededingende skemas om lede in ʼn stagnante mark te werf deur premieverhogings te bevries, waarskynlik ten koste van lidmaatskapwaarde sal wees.”

Die voordele wat die mark as waardevol beskou, het noemenswaardig verander oor die afgelope paar jaar, sê Viljoen. Benewens behoorlike Covid-19-verwante voordele, het die pandemie ook ander gesondheidsbehoeftes na vore gebring, soos die belangrikheid van lede se geestesgesondheid.

Die bedryf behoort verantwoordelik op te tree in hoe dit lede werf, glo Viljoen.

“Goeie waarde en voordele waar dit die nodigste is, behoort die fokus te wees, eerder as kortsigtige lae tariewe wat eindelik ten koste van lede sal strek selfs as – en dit is ʼn groot as – Covid-19 volgende jaar onder beheer gebring word. Kom ons onthou dat baie mense dieselfde hoop vir 2021 gekoester het, maar ons is nog nie buite gevaar nie.”

De Wet raai verbruikers aan om skemas te oorweeg waarvan die premie min of meer konstant bly, sonder drastiese stygings of dalings van jaar tot jaar.

“Vergewis jou deeglik van elke skema se risikovoordele, dit is belangriker as die klein spaarrekening tot jou beskikking. Kyk ook na moontlike bybetalings en voordeelbedrae wanneer jy ʼn skema kies.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

a3a3 ·

Slim mense se somme vir dom mense! Gee hulle ‘n pil om te sluk!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.