Mediese student kan studies voltooi danksy donasies

Hendrik Pretorius ‘n vyfde jaar mediese student aan die Universiteit van Pretoria (Foto: Back-a-Buddy)

“Ek is baie dankbaar. Dit is so ongelooflik om te sien hoe mense wat jy van geen kant af ken nie, bereid is om te help.”

Só vertel Hendrik Pretorius (23), ʼn vyfdejaar mediese student aan die Universiteit van Pretoria (UP), wat deur ʼn fondsinsameling al amper genoeg geld ingesamel het om sy laaste twee studiejare te finansier.

Met die fondsinsameling op Back-a-Buddy is daar na sewe weke altesaam R207 095,99 van die R236 000 wat nodig is vir sy laaste twee jaar op universiteit ingesamel. ʼn Goeie kennis van Hendrik se ma, Michelle Pretorius, het met die gedagte vir dié fondsinsameling vorendag gekom.

Maroela Media het vroeër berig dié jong mediese student het binne weke genoeg geld ingesamel om ten minste vanjaar sy klas- en akkommodasie-rekening aan die UP ten volle te dek. Sy ouers kon nie ʼn verdere lening by die bank kry nie en daar was sprake dat hy nie sy studie sou kon voortsit nie.

“Ek was aanvanklik verbaas oor die fondsinsameling, want ek wou nie erken dat ek hulp nodig het nie. Ek het my trots gesluk en toe besef watter groot seën dit eintlik is dat dié donasies oor my pad gekom het. Sonder hierdie donasies sou ek dalk moontlik nie my studie kon klaarmaak nie,” vertel Pretorius.

Pretorius sê die manier wat mense hul harte vir hom as ʼn vreemdeling oopgemaak het, is weer eens ʼn bewys dat die Here na sy kinders omsien.

Hy vertel nadat die universiteit gesluit het weens die algehele landwye afsondering, sit hy steeds daagliks agter sy boeke. “Die universiteit het regtig baie moeite gedoen om ons in hierdie tyd te akkommodeer sodat ons nie agter raak met ons werk nie. Hulle stel vir ons lesings aanlyn beskikbaar,” sê hy.

Pretorius sê van skooldae af het hy al geroepe gevoel om ʼn dokter te word. Dit is vir hom ʼn geleentheid om terug te gee en mense te help. “In krisistye soos nou wil ek veral mense help. Ek glo en vertrou die mense wat nou hierdie virus moet beveg is opgelei om die situasie reg te hanteer.”

Bydraes vir sy studiegeld kan hier gemaak word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Yvonne ·

So dankbaar vir hulp aan die jongman….wens hom allerbeste toe

Hekwag ·

Hendrik, maak net seker jy gaan voluit en vang graad. Moenie die land se mense teleurstel nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.