Mediese studente ly óók onder Charlotte Maxeke-brand

Groot skade is aangerig tydens ‘n brand by die Charlotte Maxeke-hospitaal in Johannesburg (April 2021) (Foto: Twitter)

Finalejaar-tandheelkundestudente aan die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) is bekommerd dat hulle nie vanjaar hul studie sal kan voltooi nie, weens vertragings in hul opleiding wat deur die brand by die Charlotte Maxeke- akademiese hospitaal in Johannesburg veroorsaak is.

Dié studente is vies vir die universiteit omdat hulle meen hul departement doen nie genoeg om te verseker dat hulle wel betyds gradueer nie. Hulle beweer ook dat die universiteit hulle nie behoorlik in dié verband inlig nie.

Dele van die Charlotte Maxeke-hospitaal het in April afgebrand toe ʼn apteek se pakkamer vlam gevat het. Die brand het vir sowat 12 uur geduur voordat dit in bedwang gebring kon word.

Vier maande ná die brand is verskeie afdelings, waaronder van die chirurgie- en mediese spesialiteitseenhede, psigiatrie, noodgevalle en trauma-eenheid, steeds gesluit.

Volgens die groep van 26 tandheelkundestudente was dit bykans onmoontlik om die afgelope paar maande enige praktiese onderrig te ontvang, aangesien Wits se Tandheelkundesentrum (WOHC) wat in die Charlotte Maxeke-hospitaal geleë is, onlangs eers weer oopgemaak het.

ʼn Memorandum oor die studente se besware is verlede week tydens ʼn vreedsame betoging aan die universiteit oorhandig, hoewel die hoof van die Tandheelkundeskool by Wits, prof. Simon Nemutandani, nie beskikbaar was ten tyde van die oorhandiging nie.

Finalejaar-tandheelkundestudente het verlede week ‘n vreedsame betoging gehou. (Foto: Verskaf)

“Ná die brand het ons voortgegaan met die teoretiese komponent van ons kursus. Dit is egter vinnig afgehandel en op 28 Junie het ons gemeenskapsklinieke begin besoek om ons kliniese vaardighede te ontwikkel. Dit het vinnig duidelik geword dat sekere vaardighede wat nodig is om ons kursus te voltooi, nie by dié klinieke ontwikkel kan word nie omdat hulle nie oor die nodige fasiliteite beskik nie,” lui die memorandum.

Daar is na bewering gesê dat die studente blootstelling aan verskeie departemente sal ontvang, maar planne om dit te verwesenlik, het skynbaar nooit die lig gesien nie. Dié studente voel nou hul onderrig is nie as prioriteit gestel nie, soos die departement wel beloof het.

ʼn Tandheelkundestudent, wat nie haar naam genoem wil hê nie, het Maandag aan Maroela Media gesê dat roosters waarvolgens studente kan terugkeer na die Tandheelkunde-sentrum voorverlede week uitgereik is, maar dat hulle bang is dié stap is te min, te laat.

“Ons werk meestal met pasiënte wat nie oornag bly nie en die meeste van dié soort pasiënte word sedert die brand na ander hospitale verwys. Gevolglik sal ons nie teen die einde van die jaar genoeg ervaring opgedoen het om as tandartse te praktiseer nie.”

Jack Bloom, DA-woordvoerder oor gesondheid, het Maandag aan Maroela Media bevestig dat sowat 2 000 buitepasiënte daagliks by die Charlotte Maxeke-hospitaal na ander hospitale verwys word vir behandeling.

Die Gautengse LUR vir gesondheid, dr. Nomathemba Mokgethi, het tydens ʼn mondelinge vraag in die provinsiale wetgewer gesê dat die hospitaal nou net ʼn gemiddeld van 380 van dié pasiënte op ʼn daaglikse grondslag kan hanteer. Hiermee saam is ʼn groot gedeelte van die hospitaal se personeel en toerusting na naburige hospitale gestuur om pasiënte daar te behandel.

Volgens Bloom mik die provinsiale regering om die hele hospitaal weer teen 2023 ten volle in werking te hê.

Die Fakulteit Gesondheidswetenskappe en die Tandheelkundeskool by Wits sal na verwagting Maandag oor die studente se memorandum vergader en bespreek wat die uitwerking op studente sal wees, indien die jaar verleng moet word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Tokkel ·

Studente moet maar hul stemme dik maak vir hul maters wat brande veroorsaak.

Anel ·

In enige ander land, bou hulle ‘n hele hospitaal in die tyd wat hulle hier een probeer herstel. Afrifirum en Solidariteit bou ‘n hele universiteit in minder as ‘n jaar en onder begroting. Nou hoe nou?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.