Medihelp moet Zachary se behandeling betaal

Zachary de Wet is verlede jaar met mukopolisakkaridose‑tipe 2, ook bekend as Hunter‑sindroom, gediagnoseer. (Foto: Verskaf)

Die familie van klein Zachary de Wet was Vrydag oorstelp van vreugde nadat die Pretoriase hooggeregshof ʼn tussentydse bevel toegestaan het dat Medihelp vir die driejarige seuntjie, wat aan Hunter-sindroom ly, se behandeling moet betaal.

“Lewe, dit beteken lewe,” het ʼn oorstelpte Michaney de Wet, Zachary se ma, gesê nadat regter Anthony Millar uitspraak in die saak gelewer het.

De Wet het die aansoek namens Zachary ingedien.

“My seuntjie kan lewe en gesonder wees en funksioneer soos ʼn gewone kind. Ons het al só gehuil vanoggend. Dit is fantastiese nuus.”

Zachary kon tot dusver nie die behandeling ontvang wat nodig is om die aftakeling van sy liggaam deur die siekte te stuit nie, omdat die mediese fonds nie daarvoor wou betaal nie.

Sy ouers, Michaney en Jacques, het hulle met die hulp van die organisasie Rare Diseases South Africa (RDSA) tot die hof gewend om Medihelp te dwing om vir Zachary se behandeling met Elaprese, wat sowat R180 000 per maand beloop, te betaal.

Kelly du Plessis, uitvoerende hoof van RDSA saam met Zachary se ouers, Michaney en Jacques de Wet, by ‘n vorige hofverskyning. (Foto: Verskaf)

Medihelp het vroeër toegegee dat die sindroom ʼn toestand is wat deel vorm van minimum voorgeskrewe voordele (VMV), maar het aangevoer dat die behandeling daarvan met Elaprase nie ʼn VMV-voordeelmedikasie is nie. Die fonds keur wel palliatiewe sorg goed.

In die hof is aangevoer dat Elaprase egter die enigste geregistreerde behandeling vir Hunter-sindroom is en dat dit dus ʼn goedgekeurde, voorgekrewe voordeelmedikasie is.

Die regter het bevind dat die produk wel in die openbare en private gesondheidsektor gebruik word. Hy het bevind dat indien Zachary nie behandeling met Elaprase ontvang nie, sy lewe en lewensgehalte onomkeerbaar negatief geraak sal word.

Die hof het Medihelp beveel om binne 30 dae toestemming te gee vir die behandeling en versorgingskoste van alle mediese ingryping wat nodig is en om alle rekeninge of eise vir gesondheidsdienste ook binne 30 dae te betaal.

Zachary kan moontlik al so vroeg as volgende week die behandeling begin ontvang.

Michaney sê dit beteken Zachary kan voortaan soos ʼn gewone seuntjie funksioneer en veel langer leef as die verwagte 12 tot 18 jaar sonder die behandeling.

“Jy kan nie ʼn prys daarop plaas nie.”

Zachary de Wet. (Foto: Verskaf)

Kelly du Plessis, stigter en hoof van RDSA, het die uitspraak ook verwelkom en sê die organisasie gaan voort om hom te beywer vir toegang tot mediese hulp vir alle pasiënte in Suid-Afrika wat aan seldsame siektes ly.

“Ons hou aan om te werk aan ʼn toekoms waarin daar konsekwentheid en sekerheid is rakende toegang tot behandeling en ingryping wat lewens red.”

Medihelp het by navraag oor die uitspraak gesê die grootste uitdaging wat mediese fondse in die gesig staar, is om te verseker dat pasiënte toegang tot gehaltesorg met goeie kliniese uitkomste het, terwyl volhoubare finansiering ook verseker word.

“Die beteken dat skemas moeilike besluite soos hierdie een moet neem en daarom maak hulle staat op hul reëls en finansieringsriglyne om konsekwente en billike behandeling van die gesamentlike lidmaatskap te verseker.

“Hoewel Medihelp diepe empatie met Zachary en sy gesin het, is ons besluit geneem om die belange van die gesamentlike lidmaatskap van Medihelp te dien.”

Die mediese fonds sê hy bestudeer die uitspraak en die uitwerking wat dit sal hê, voordat hy ʼn besluit sal neem oor wat in die beste belang van al sy lede gaan wees.

Die aansoek is in twee dele ingedien. Die eerste, wat nou toegestaan is, was vir die tussentydse bevel dat Medihelp vir die behandeling moet betaal. Die tweede gedeelte handel oor ʼn aansoek wat by die Raad op Mediese Skemas (RMS) ingevolge artikel 47 van die Wet op Mediese Skemas ingedien is. Die spesifieke artikel handel oor klagtes wat by die RMS ingedien word. Daardie gedeelte van die aansoek moet nog afgehandel word.

Medihelp is beveel om die koste van die aansoek te betaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Di ·

SO bly vir julle. Lyk my deesdae moet ALMAL hof toe gevat word voordat iets gebeur. Hulle maak nou soos die ANC Kaders om te kyk waar hulle kan geld kan spaar. Geld en dienste wat mense TOEKOM en waarvoor hulle BETAAL

lollapot ·

WONDERLIKE nuus! Sterkte en liefde vir hierdie wonderlike ouers en hul seuntjie!

Corne123 ·

Uitstekend hoop ander mediese fondse skrik wakker en sien n medies is nie ontasbaar nie tyd dat die dr ook vasgevat word want regtig pvt dr suig mediese fondse leeg

Charmaine ·

Ek is so ongelooflik bly vir julle. Baie sterkte vir die pad wat voorlê.

JohnnyS ·

Ook mense lekker benadeel met Covid-19 wat ook as VMV geregistreer is.

Adam ·

Fantasties
Medihelp moes lankal in die bek geruk word.
Hulle is bekend vir hulle jakkalsdraaie as dit by betaling kom.
Lede moet kennis neem!

SjN ·

Moenie opgewonde raak nie, daar is nog 30 Dae tyd vir die fonds, hul mag ook appel aanteken.

philippus ·

met sulke sake, kry jy n aanduiding watter mediese fondse geld wolwe is en lede sal laat vrek vir wins, en watter fondse is redelik en menslik…. hier het ek n duidelike insig gekry!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.