MEDiPOS-lede kry hul voordele terug

(Argieffoto: Elaine Krige)

Ná weke van onsekerheid het MEDiPOS die meeste van sy agterstallige bydraes van die Poskantoor ontvang en is fondslede wat sonder enige dekking gelaat is, se voordele heringestel.

Die mediese fonds het lede verlede maand ingelig dat hul voordele weens die uitstaande betaling opgeskort word. Die fonds het in September verlede jaar ʼn hofbevel bekom wat die Poskantoor verplig om maandeliks R50 miljoen aan MEDiPOS oor te betaal vir agterstallige bydraes. Die ooreenkoms is egter nie getrou nagekom nie.

MEDiPOS het onlangs weer ʼn suksesvolle hofaansoek ingedien om beslag te lê op ʼn bankrekening van die Poskantoor om die geld te verhaal.

Verlede week het die Poskantoor in ʼn brief aan lede gesê dat die Poskantoor ʼn betaling gedoen het om September se uitstaande mediesefondsbydraes te delg, maar dat dit R8 miljoen te min was. Slegs R41,6 miljoen is ontvang.

Volgens MEDiPOS het die Poskantoor nou die betalings ingevolge die hofbevel gedoen en alle opgeskorte voordele is terugwerkend ingestel.

Dit beteken die mediese fonds sal eise vanaf 1 Oktober ingevolge die mediese fonds se reëls betaal.

“Dit was ʼn ongelukkige ondervinding vir die mediese fonds en sy lede. Ons betreur enige ongerief wat dit veroorsaak het,” lui die brief aan lede.

Sowat 11 000 mense, talle van hulle afgetrede Poskantoorwerkers, is deur die opskorting van die voordele geraak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Casper ·

Wys net selfs die ANC entiteite is nie bo die wet verhewe nie.Dankie solidariteit.

domheks ·

Wat sou ons sonder SOLIDARITEIT gedoen het? Hoe kan ‘n staatsinstelling geld by mense verhaal maar NIE oorbetaal nie?

Anel ·

Net soos die munisipaliteite ons krag se geld invorder en dit nie oorbetaal nie. So gaan dit orals!!!

Windhond ·

“Dit was ʼn ongelukkige ondervinding vir die mediese fonds en sy lede. Ons betreur enige ongerief wat dit veroorsaak het,” Wraggies? wonder hoe so iets net kan gebeur?

Koos 100 ·

Wat ek nie kan verstaan nie dat elke slag as dit gebeur dan kom daar geld van iewers af om te betaal. Hoekom nie van die begin af dit oorbetaal nie, of word ons belasting geld gebruik of word dit weggesteek in die hoop dat daarvan vergeet gaan word en dan kan dit gerieflik verdwyn.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.