Mediumtermynbegroting: Belastingbetalers nou al droog gemelk

(Argieffoto: Maroela Media)

Enoch Godongwana, minister van finansies, maak Donderdag sy eerste mediumtermynbegrotingsraamwerk bekend en sal fyn dopgehou word – veral wat belasting op alreeds voos Suid-Afrikaners betref. Maar die ekonoom Mike Schüssler sê hy glo nie daar gaan veel wees om oor opgewonde te raak nie.

Schüssler, verbonde aan economists.co.za, sê die ruimte om belastingbetalers verder te druk vir al meer geld word al hoe nouer en as die druk té groot word, gaan die groep elders ʼn heenkome begin soek. “En dan gaan die armes uitvind wat armoede werklik is,” waarsku Schüssler.

Volgens hom sal kwessies soos ʼn basiese inkomstetoelaag waarskynlik een van die groot besprekingspunte wees en die minister sal ʼn aanduiding moet gee oor waar die land geld gaan bespaar en waar hy meer kan invorder.

“Vir diegene in die middelklas raak die belastingkoers net erger en ons het geen manier om daaruit te kom nie. Op elke front is die belasting hoog. Die ekonomie kan uiteindelik net soveel belasting dra.”

Schüssler verduidelik dat Suid-Afrika nagenoeg sewe miljoen belastingbetalers het. Hiervan werk nagenoeg 1,8 miljoen mense in die staatsdiens. Hoewel hulle dus ook belasting bydra, word hulle weer met belastinggeld betaal. Dus is sowat vyf miljoen private burgers verantwoordelik vir die land se belastinginkomste.

“Eintlik word hierdie land dus gedra deur sowat vyf miljoen mense wat niks terugkry van die regering nie. Dit kan nie so aangaan nie.”

Hy sê belastingbetalers kry boonop weinig waarde vir hul geld, maar is nietemin diegene wat sorg dat sowat 18,5 miljoen mense maandeliks een of ander toelaag van die staat kry.

Dr. Dion George, die DA se woordvoerder oor finansies, stem saam dat huishoudings reeds swaar belas word, met min om daarvoor te wys. Die DA sal dus nie nuwe belasting of belastingverhogings steun nie.

Hy meen die begrotingsrede moet voorsiening maak om die armes teen stygende inflasie te help beskerm en sê groot pogings moet aangewend word om maatskaplike besteding te beskerm deur direkte maatskaplike steun aan die armes te verhoog.

Die party steun in hierdie stadium egter nie ʼn permanente uitbreiding van die toelaagstelsel nie.

“Op medium- tot lang termyn moet Suid-Afrika se benadering fokus op hervorming wat groei sal aanwakker. In ʼn omgewing van sterk groei, verminderde korrupsie en verkwisting, kan die uitbreiding van maatskaplike steun as ʼn dividend op groei en goeie regering moontlik wees.”

Schüssler sê Suid-Afrika benodig ʼn finansminister wat sal opstaan en sê “ek kan nie, ons kan nie. Julle moet nou sélf”.

Hy sê ten spyte van die groot druk wat op die tesourie is, het die land deur die jare nog altyd grootliks uitstekende kundiges aan die hoof van die land se geldsake gehad – en dat dít tot dusver Suid-Afrika se behoud was. “Die tesourie is in ʼn ander klas en ons is gelukkig dat daardie kultuur daar ontwikkel het. Jy vind nie politiekery daar nie en selfs in die aanloop tot die verkiesing het dié minister onttrek en op sy werk gefokus.”

Hou dié temas môre dop

Kulani Siweya, landbou-ekonoom van Agri SA, sê hulle verwag dat die beleidstelling twee hooftemas sal bevat: Die eerste is die aansienlike afname in die tempo van fiskale agteruitgang weens ʼn kommoditeitsprys-meevaller wat inkomste opstoot. Dit het ʼn positiewe uitwerking op die fiskale verhouding van hoër nominale BBP, na afloop van Statistieke SA se vergelykingstudie.

Die tweede tema sal na verwagting die onsekere skuldvooruitsig wees.

Siweya sê hoewel die positiewe aspekte van ʼn korttermynaard is, moet gelet word op die langtermynvooruitsig, veral inaggenome die menige strukturele uitdagings wat die land reeds in die gesig staar.

Siweya sê sommige van die aspekte wat hulle sal dophou, is sentimente oor staatsondernemings en moontlike onbegrote reddingsboeie, asook die tesourie se onderneming om besteding in te kort. Hy sê dit gaan die land óf op die pad na algehele herstel plaas, óf sorg dat Suid-Afrika meer van dieselfde ekonomiese agteruitgang van die nuwe minister en sy span kan verwag.

Siweya sê die mediumtermynstelling behoort vertroue op verskeie terreine te skep.

“Dit is iets wat ons broodnodig het, gegewe die afname in investering in infrastruktuur, asook die behoefte aan inklusiewe groei wat tans nie onderhandelbaar is nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

SlinkseKoljander ·

Ons is klaar met ons belasting geld gee vir mense wat alles afbreek en brand, hulle moet maar vir hulle self versorg. Genoeg van al die handouts!!

Baardman ·

Ek wens dit kon waar wees, maar ons het geen keuse as om te betaal nie

Di ·

Die Regering moet DRINGEND iets doen om die bevolkingsaanwas in hierdie land in toom te begin hou. As ons langer so voortploeter gaan armmoede net meer en meer word. Die 7 miljoen belasting betalers moet ‘n bevolking van 59 miljoen onderhou en die aanwas word by die dag net groter en groter. Stop die kinder grants want dit is net ‘n aanmoediging om meer kinders te kry.

JohanR ·

Die ANC sal ‘n manier vind om die belastingbetalers nog te melk!

efjy ·

Die ANC is deur sy eie amptenare aangekla dat hulle belasting van hul personeel se salaris verhaal, maar nie aan die ontvanger oorbetaal nie, wie se dit gebeur nie ook met die regerings(ANC) amptenare se belasting ook nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.