Mediumtermynbegroting: ‘Ons verwag nie ʼn afgradering’

Nhlanhla Nene. Foto: Elmond Jiyane

Nhlanhla Nene. Foto: Elmond Jiyane

Nhlanhla Nene, minister van finansies, het Woensdag na afloop van sy mediumtermynbegroting gesê hy verwag nie die land se kredietgradering sal verder afwaarts aangepas word nie.

Nene het aan verslaggewers gesê hy glo die Tesourie het dié risiko voorkom deur nasionale skuld te stabiliseer. “Ons dink aangesien ons in ‘n posisie is om skuld te stabiliseer, wat een van die risiko’s is en ons voortgaan om op koers te bly in terme van fiskale konsolidasie, daar inderdaad geen rede vir ‘n afgradering is nie… maar soos ek gesê het, ek kan nie namens die graderingsagentskappe praat nie. ”

Die minister het in sy toespraak gesê ekonomiese groei is aansienlik laer as wat in Februarie voorspel is. Na verwagting sal die Suid-Afrikaanse ekonomie vanjaar met sowat 1,5% groei en sowat 1,7% volgende jaar. “Dit is aansienlik laer as wat tydens die Februarie-begroting verwag is.” Die minister het destyds gesê hulle verwag groei van 2% vanjaar en 2,4% in 2016.

Die minister het verder aangekondig dat bruto inkomstebelasting vanjaar na verwagting met R7,6 miljard sal afneem en met sowat R35 miljard oor ʼn driejaar-periode. “Belastinginkomste het nietemin goed gebly sedert die 2008/09-resessie. Dit dui op beide die veerkragtigheid van ons belastingbeleidsraamwerk en voortgesette mag van belastingsadministrasie. Mede-Suid-Afrikaners, belastingnakoming lê aan die hart van nasiebou en maatskaplike samehorigheid.”

Nene het gesê die begrotingstekort het skerp gestyg na afloop van die 2008-resessie ten einde ekonomiese herstel te ondersteun. “Die tekort het sedertdien gedaal en sal na verwagting vanjaar 3,8% van die BBP uitmaak. Ná die resessie het regeringskuld toegeneem van sowat 26% van die BBP tot 47% in Maart vanjaar. Ons verwag dat die skuld sal styg met ‘n verdere R600 miljard oor die volgende drie jaar, terwyl dit na verwagting sal stabiliseer as ‘n persentasie van die BBP.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Francois ·

Hahahahahah…kom ons wag en kyk. Die land is in sy kwet in!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.