Mediumtermynbegroting: ‘Zombie-SAL’ steeds saamgesleep

Minister Tito Mboweni. Foto: Elmond Jiyane, GCIS

Hoewel die ANC die mediumtermynbegroting van Tito Mboweni, minister van finansies, gister verwelkom het, was die opposisiepartye bekommerd oor waar die geld vandaan gaan kom.

Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, sê die harde werklikheid is dat die fiskus nie meer geld het nie.

“Die minister is duidelik in ʼn skaakmat-posisie. Dít blyk uit die begrotingstekort wat nou reeds R770 miljard beloop. Die totale skuldlas van die regering beloop R3,9 biljoen rand (biljoen = duisend miljard). Dit gaan styg tot R5,8 biljoen teen die einde van die huidige finansiële mediumtermyn.

“Net die dienstegeld op hierdie bedrag beloop tans R233 miljard per jaar wat na verwagting gaan styg tot R355 miljard per jaar teen 2023/24. Dit beteken die land het nie meer geld nie.”

Groenewald is boonop bekommerd oor die R10,5 miljard wat begroot is om die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) in die lug te hou.

“Die lugdiens is ʼn onbekostigbare luukse en moet nou geprivatiseer of selfs net weggegee word. Daar kan nie meer geld hierop vermors word nie.”

Volgens Groenewald bly die staat se salarisrekening ʼn yslike probleem. “Hier neem die minister nou R14,1 miljard van onderwys weg terwyl pres. Cyril Ramaphosa twee weke gelede [as deel van sy ekonomiese herstelplan] aangekondig het daar gaan 200 000 nuwe poste in die onderwyssektor geskep word.

(Foto: Maroela Media)

“Dit maak nie sin nie. Waar gaan die geld gevind word vir die bykomende poste wat die president as deel van sy werkskeppingsprogram beloof het? Dit is duidelik die minister en die regering is in ʼn skaakmatposisie en dit sal nie verander solank daar nie duidelike beleidsverandering aangebring word nie,” meen Groenewald.

Geordin Hill-Lewis, die DA se parlementêre woordvoerder oor finansies, sê op sy beurt die land se skuld sal nié teen 2023 stabiliseer nie.

“Die ANC-regering het gekies om noodsaaklike dienste aan die publiek soos onderwys en polisiëring te sny om sodoende nóg ʼn reddingsboei vir SAL te gee. Dit is ʼn onverdedigbare, immorele keuse. Dit kom daarop neer dat Suid-Afrikaners ‘onder die vliegtuig gegooi word’ om vir SAL te betaal.”

Volgens Hill-Lewis het Mboweni sy verbintenis om die land se skuld teen 2023 onder beheer te kry, laat vaar.

“Suid-Afrikaners sal aanhou betaal vir ʼn zombie-staatsonderneming en sal voortgaan om die gevolge van al meer skuld te voel. Daarom moet vandag se mediumtermyn-begrotingstoespraak as ʼn mislukking beskou word.”

Nomfanelo Kota, woordvoerder van die ANC-koukus, sê die koukus besef dat die mediumtermynbegroting  te midde van ’n erg beperkte fiskale ruimte ter tafel gelê is.

Tog glo die koukus dat die mediumtermynbegrotingsraamwerk geld aan programme toeken wat ooreenstem met die doelstellings van Ramaphosa se ekonomiese herstelplan.

“Die ANC word bemoedig [deur die feit] dat die regering fokus op die implementering van die nodige strukturele hervormings om die groei, mededingendheid en inklusiwiteit van die Suid-Afrikaanse ekonomie te versnel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Persheks Adri ·

Hou op om geld te mors vir die SAL! Julle luister nie Tito dis geld in die lug gooi en kan beslis beter aangewend word punt.

gehasie ·

Geen teken van ‘n verantwoordelike regering nie! Maar wag hul C-19 statestieke is 100% akkuraat! Wat nou gemaak….?

Megan Swart ·

Dagsê Dries
Ons vra om verskoning vir die fout. Die artikel is reeds gewysig.
Dankie! Groetnis
Megan
nms Maroela Media

annie ·

SAA ons Gucci flying gocart is ‘n ‘moet’ mense. Waarmee moet die VIP’s andersins rondrits? Dis hoekom. Ons is ‘n high flying nation. Only the best. Daai prentjie van die opgedresste ouens bo in Afrika in hul nines wat hups oor stroompies rioolwater spring terwyl nuwe K al die ongeurighede verdoesel. Dit is lewe. Tito verdien ‘n goue strikdassie vir sy jongste danspassie. So uit die Freedom Charter of 1955. Dankie tog ook vir Isis in Mosambiek. Binnekort kan Ace weer SAA inspan. Hopsa perdjie!

Frank ·

Onderwysers moet nou effektief SAL finansier. Belaglik dat so met kinders se toekoms gespeel word.

Werner ·

Hierdie regering weet nie wat die woord ekonomie beteken nie.Die persoon of party wat dink die ekonomie kan nog gered word leef in droomland

Robert ·

“Zombie SAL” lekker lag ek nou! Hierdie spul wys inderdaad dat hulle nie logies kan dink nie. #hambaanc

Pieter ·

Begroting en ANC steun dui duidelik op 1955 Freedom Charter denke (verouderd), graad 5 kwalifikasies en 30% slaagsyfer. Die ekonomiese vliegtuig gaan val.

Frans ·

Die regering se houding is net soos ‘n gesin wat ver bo sy inkomste lewe en dit net kan handhaaf om grootskaals skuld aan te gaan.’n Gesin kan aansoek doen om skuldbereddering,’n regering nie.
Die tyd het aangebreek om vakbonde se eise om salaris en-loonsvehoging ver bo die inflasiekoers,wat tans 3 % is teen te staan,ongeag watter ooreenkoms daar ook al bereik is.

Word dit nie op alle regeringsvlakke gedoen nie-sal daar binnekort geen fondse oorbly vir noodsaaklike dienste nie en daar net enorme onbekostigbare salaris en loonrekeninge en leningsrekeninge oorbly

Willem ·

Daar is mos masjiene wat geld kan druk. Nou wat sal hul omgee

Grassie ·

Ons het die stiksienigste, onnoselste regering in die hele wêreld. Hul beleid is nie “hoe kan ons geld bespaar” nie, maar “waar kan ons nog geld leen om vir ons uitspattighede te betaal.” Hulle het geen gewete nie, hulle plunder net en los die belastingbetalers met die gebakte pere.

Jakes ·

Hulle hou die unies gelukkig…….kos by Pick &Pay……chicken of beef by OR Thambo…..dom kinders in skole…….onopgeleide polisie…..ens,ens.

Stefan ·

Ek kon nog nooit verstaan hoe die ‘people’ se koppe werk nie.
Dis ‘n alewige getoitoi met gepaardgaande vernielinge op die verkeerde plekke.
Hulle sal nou weer tekere gaan by die skole en universiteite oor die tekort aan geld, pleks dat hulle toitoi by die SAA wat nou hùl geld vat of by die parlement self wat die verkeerd aanwend en mors.

gatgogga ·

Ons moet almal afskaal en boet vir die ANC se onbekwaamheid en misdadigheid. Maar die hooggeplaasde comrades sal nie hulle plesiertjie, SAL, prysgee nie.
Dis die laaste strooi vir my – ek sal nie meer saamwerk om hierdie land te red nie.

Anoniem ·

SA is alreeds onomkeerbaar oor die fiskale afgrond, van hier af is dit net eenrigting verkeer ondertoe. Hoe kan ongeveer 10 miljoen geld verdieners ‘n skuldlas van 5.8 Biljoen Rand afwerk? Ons moet onsself vinnig begin voorberei om ‘n oorlewings bestaan te kan voer, baie vinnig ook. Die poppe gaan eers regtig begin dans wanneer die regering nie meer geld het om staats amptenare se salarisse en die etlike miljoene afhanklikes se toelaes te betaal nie.

Kosie ·

Gestel die 5.8 biljoen word gelykop verdele tussen 10 miljoen belastingbetalers. Dan moet elkeen R580000.00 betaal om die skuld te delg. Is jy reg om jou deel te doen vir die skuld wat die regering namens jou en jou kinders aangaan?

Suzette ·

Hulle het baie geld om uitgesuigde en geplunderde staatsinstansies aan die lewe te probeer hou. Bou nog ‘n monument man. R30 miljoen is mos niks vir OR Tambo standbeeld.

Dries ·

Waarvoor gebruik die SAL al hierdie bailouts? Waar gaan die geld heen?

Johann ·

Ongelooflik? Dis asof daar eenvoudig geen realiteits besef is by die ANC oor presies in hoeveel WERKLIKHEIDS gemors ons sit nie? Of is dit juis deel van hulle kommunistiese droom? Gryp…vat…verwoes…gee weg…spandeer…dwing die land tot finansiële chaos en verklaar dan n mags staat met hulle weermag reeds in plek om onderdrukking af te dwing?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.