Medunsa-studente in hof oor vandalisme

Studente het glo die hoofhek by GaRankuwa-kampus van Medunsa aan die brand gesteek (Augustus 2014) Foto: @Ursula_Joy/Twitter

Studente het glo die hoofhek by GaRankuwa-kampus van Medunsa aan die brand gesteek (Augustus 2014) Foto: @Ursula_Joy/Twitter

Vyf studente van die Mediese Universiteit van SA (Medunsa) het Maandag in die Pretoria-Noord-landdroshof verskyn in verband met onlangse gewelddadige betogings by die Ga-Rankuwa-kampus.

“Die vyf studente is Saterdag in hegtenis geneem en staan tereg op aanklagte van opsetlike saakbeskadiging,” het kapt. Rheineth Motlana, ʼn polisiewoordvoerder, gesê. “Die studente is vrygelaat sonder borgtog en moet weer op 23 September in die hof verskyn.”

Sy kon nie dadelik meer inligting oor die studente verskaf nie.

Die universiteit moes aan die begin van die maand sy deure sluit en bestuur het studente beveel om die perseel te verlaat nadat betogings vir twee weke lank voortgeduur het. Die studente het geëis dat sekere dosente afgedank moet word omdat hulle glo hul plig teenoor die studente versuim het. Die studente was glo ook ontevrede omdat die kampus se naam na Sefako Makgatho verander is.

Studente het glo ook ʼn motor en die wagkamer by die universiteit se hoofhek tydens die betoging aan die brand gesteek.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.