Medupi: ANC maak miljoene

Medupi-kragstasie Foto: Hitachi  Power Africa

Medupi-kragstasie Foto: Hitachi Power Africa

Chancellor House, die ANC se beleggingsmaatskappy, het R50 miljoen verdien kort voor verlede jaar se algemene verkiesing toe hy sy aandele verkoop het in ’n maatskappy wat groot kontrakte van Eskom, wat onder staatsbeheer is, gekry het, het Netwerk24 berig.

Chancellor House het ʼn bykomende R50 miljoen in dividende verdien danksy sy verbintenis met Hitachi Power Africa (HPA). Chancellor House het in 2005 slegs R1,25 miljoen vir sy aandeel in HPA betaal.

HPA het in 2007 tenders ter waarde van R40 miljard gekry vir die vervaardiging van drukketels vir Eskom se Medupi- en Kusile-kragstasies. Die openbare beskermer het in 2008 bevind die toekenning van die tenders aan HPA het ʼn belangebotsing veroorsaak aangesien Valli Moosa, Eskom se destydse voorsitter, ook ʼn senior lid van die ANC was.

HPA het destyds aangevoer dat hy nie bewus was van Chancellor House se bande met die regerende party nie, maar Netwerk24 het verneem dat Robin Duff, HPA se destydse finansiële hoof, wel ʼn waarskuwing ontvang het oor Chancellor House se politieke bande voor HPA die maatskappy as sy SEB-vennoot aangestel het.

Duff het die bewering ten sterkste ontken. HPA is ook voorheen gekritiseer aangesien die drukketels wat hy vir Medupi en Kusile vervaardig het, glo deels verantwoordelik is vir die reuse-agterstand by die nuwe kragstasies.
Mathews Phosa, die ANC se voormalige tesourier-generaal, het in 2010 al gesê Chancellor House moet sy aandeel in HPA verkoop.

Volgens Netwerk24 se bron het die onderhandelings vir verlede jaar se transaksie in Augustus 2013 begin. HPA se kontrakte vir die drukketels is deur Mitsubishi Hitachi Power Systems Africa (MHPSA) oorgeneem.

MHPSA het nie reageer op Netwerk24 se versoek vir kommentaar nie. David Milner, woordvoerder van MHPSA, het bloot gesê die verhouding tussen HPA en Chancellor House is reeds beëindig voor MHPSA gestig is.

Netwerk24

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Peet Schabort ·

Vervang ‘maak’- of ‘verdien’ miljoene met ‘kry’ miljoene.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.