Herstelwerk by Medupi eers in 2024 afgehandel

Die eenheid na die ontploffing. (Foto: Chris Yelland/Twitter)

Die eenheid wat tydens verlede jaar se ontploffing by die Medupi-kragstasie by Lephalale (Ellisras) in Limpopo beskadig is, sal eers oor twee en ʼn half jaar weer in diens gestel word.

Dit is een van die redes waarom Eskom voorhou dat beurtkrag nog die hele jaar verwag kan word.

Daar word verwag dat eenheid 4 eers in Augustus 2024 – drie jaar ná die ongeluk – weer in werking gestel sal word, het Jan Oberholzer, bedryfshoof van Eskom, Donderdag tydens ʼn inligtingsessie gesê.

Phillip Dukashe, hoof van opwekking by die kragvoorsiener, het gesê Eskom sal binnekort sy gedetailleerde ondersoek na die ontploffing afhandel. Daar word in dié stadium beraam dat die skade soveel as R2,5 miljard kan beloop.

’n Versekeringseis is ingedien en die versekeraars het tegniese assessors aangestel om die omvang van die skade te bepaal.

Die voorlopige ondersoek het reeds daarop gedui dat die ontploffing in Augustus verlede jaar veroorsaak is deur ʼn ontploffing van waterstof as gevolg van die vermenging van waterstof en lug tydens die suiweringsproses. Die voorlopige ondersoek het ook verskeie bestuursmislukkings ontbloot en daarop gedui dat sekere prosedures nie op die dag van die ontploffing nagekom is nie.

Die voorval word as ʼn gevallestudie gebruik om interne prosesse vorentoe te verbeter.

Daar word ook goeie vordering gemaak in regstel van ontwerpdefekte by die Medupi- en Kusile-kragstasie.

Beurtkrag vir eers Suid-Afrikaners se lot

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Hoewel Eskom op 19 November laas genoop was om beurtkrag te implementeer, sal groot projekte en kragonderbrekings vanjaar weer groot druk op die kragnetwerk plaas, wat die risiko van beurtkrag op kort kennisgewing verhoog.

“Die opwekkingskant van die bedryf bly baie uitdagend, spesifiek die beskikbaarheid van die steenkoolkragstasies as gevolg van aanlegte se onbetroubaarheid en onvoorspelbaarheid wat bydra tot talle ineenstortings,” het Oberholzer gesê.

Eskom het tydens sy eerste inligtingsessie van die jaar daarop gewys dat die meerderheid van die land se steenkoolkragstasies reeds die middel van hul bedryfslewe (ʼn gemiddeld van 42 jaar) bereik het wat onderbrekings onvermydelik maak.

“Terwyl ons voortgaan om betroubaarheidsinstandhouding- en opknappingsprojekte uit te voer om aandag te gee aan die gebrek aan betroubaarheid van kragstasies, bly daar ʼn verhoogde risiko van beurtkrag,” het Segomoco Scheppers, hoof van transmissie by Eskom, gesê.

Altesame 51 dae van beurtkrag moes sedert 1 April 2021 geïmplementeer word. Dit is meer as die 47 dae tydens die 2021 finansiële jaar wat op 31 Maart 2021 tot ’n einde gekom het.

ʼn Tikkie goeie nuus

Die kragreus het tog effe verblydende nuus tydens die inligtingsessie gedeel – daar is tans oorgenoeg steenkoolvoorraad en goeie vordering word gemaak as deel van sy plan vir operasionele herstel.

Eenheid 4 van die Kusile-kragstasie by Delmas in Mpumalanga het op 11 Januarie ʼn volle vrag van 800 MW behaal nadat dit vir die eerste keer in Desember met die netwerk gesinchroniseer is. Die eenheid moet wel nog toetsing ondergaan voordat dit teen Julie ten volle in kommersiële bedryf kan gaan.

Eenheid 1 van die Kendal-kragstasie in Mpumalanga is op 3 Januarie weer in diens gestel nadat ’n brand in September daar uitgebreek het.

Eenheid 2 van die Koeberg‑kragsentrale is intussen vir geskeduleerde opknapping en hervulling van sy brandstofvoorraad aan die stelsel onttrek. Dit word gedoen om die bedryfslewe van die kragstasie met nog 20 jaar te verleng.

Voor hierdie onderbreking het eenheid 2 ʼn ononderbroke 454 dae van opwekking – ʼn maksimum 920 MW – bereik.

Eskom se steenkoolvoorraadvlakke is in dié stadium gesond met genoeg voorraad om die kragvoorsiener gemiddeld 46 dae te hou. Eskom het selfs ’n gemiddelde steenkoolvoorraad van 80 dae indien die situasie by die Medupi-kragstasie – wat oortollige steenkool het – in ag geneem word.

Nog 450 veiligheidswagte is intussen by die kragvoorsiener se sleutelpersele ontplooi om misdaad te bekamp. Kameras en hommeltuie met infrarooi kameras word onder meer ingespan om bates te beskerm.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

annie ·

Koeberg se facelift is nie sommer net een dag in die kliniek en als is weer in plek nie. Dit gaan glo nie so voor die weste wind daar nie nadat die bestuurder ook afgedank is net voor die operasie nie. Hierdie proses moet weer herhaal word met nog ander eenhede. Dis ‘n ou kragstasie met ‘n outydse sisteem. Probeer ‘n 35-jaar oue motor oorbou. En dan soek jy parte. Die koste gaan kwaai eskaleer en die jare aanloop. Waar gaan die gevaarlike ou dele begrawe word?

Wondermaarnet ·

En as ons weer iets hieroor lees dan het die kostes al R25 miljard gekos en is die eenheid steeds nie in werking nie.

casper ·

En almal betrokke by die geval het hulle wel verdiende bevorderings ontvang.
Hulle het mos gesê is hulle is jammer.

Di ·

DIS wat gebeur as onbevoegde mense in poste aangestel word wat nie die werk kan doen waarvoor hulle betaal word nie! Kyk maar net om jou rond in die land en jy gaan BAIE sulke gevalle sien. Nou gaan ONS weer die skade moet betaal. Geen wonder Eskom soek 20% verhoging nie. Dis om al hierdie skade wat onbevoegde persone veroorsaak het, te dek

Jacobus ·

Wat skreiend uitstaan is die slakkepas van alles. Die arme persoon wat die CCMA genader het oor inenting se saak is chop chop afgehandel. Maar meeste van ons spoorlyne het verdwyn – R 2.5B se nalatigheid by Medupii- BLO se vliegtuig stort neer – ‘n vliegtuig se deur word afgeskeur – en aan en aan en aan!
Die parlement gebou brand feitelik af – skouers opgehaal.
Dreig jou as jy nie ‘n sensus vorm invul. Die land is absoluut vervuil van nalatigheid – geen gevolge!

SomeOne ·

“sal eers oor twee en ʼn half jaar weer in diens gestel word.”, met al die opgradering wat nou ook gedoen gaan word ?, is dit teen daardie tyd alweer oudmodies

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.