
Pres. Cyril Ramaphosa Dinsdag tydens ‘n besoek aan die Medupi-kragsentrale in Limpopo. Links is die minister van openbare ondernemings, Pravin Gordhan. (Foto: GCIS)
Nog ʼn eenheid van die Medupi-kragsentrale is Dinsdag in kommersiële bedryf gestel en pres. Cyril Ramaphosa, op besoek aan die kragsentrale, het beloof dat dit teen aanstaande jaar ten volle operasioneel gaan wees. Die laaste eenheid moet dan aanlyn kom.
Medupi is ʼn droogverkoelde steenkoolkragsentrale wes van Lephalale in Limpopo. Wanneer dit eers volstoom werk, sal dit volgens die regering die wêreld se vierde grootste steenkoolaangedrewe kragsentrale wees – met genoeg opwekkingsvermoë om bykans die hele Gauteng van elektrisiteit te voorsien.
Die projek sloer al jare lank en is geteister deur onder meer ontwerpfoute. In Oktober vanjaar het die parlement se staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor) ingrypende veranderinge by Eskom aanbeveel in sy konsepverslag oor die kragvoorsiener se probleme. Spesifieke aanbevelings is gedoen oor verbeteringe by nuwe kragsentrales, waaronder ook Medupi.
Van die bevindings in die verslag was dat ongekwalifiseerde werkers onder meer gebruik is om die Medupi-aanleg te bou en dat die standaard van steenkool wat gedurende die vorige boekjaar gebruik is, dikwels swak was. Daar is ook bevind dat die eenhede gereeld uitskop en dan weer aangeskakel moet word, wat nie goed is vir hul behoud nie. Die meule en die hitte-absorpsie van stoom by die aanleg is ook ʼn groot probleem.
Ramaphosa het nie vandag uitgebrei oor wanneer die laaste eenheid by Medupi aanlyn gaan wees nie. Hy het wel gesê watter belangrike rol steenkool steeds in die land se opwekkingsplan gaan speel.

Nog ‘n eenheid van die Medupi-kragsentrale is Dinsdag in kommersiële bedryf gestel. (Foto: GCIS)
“Ons wil Eskom moderniseer sodat dit bedryf kan word en in ooreenstemming met nuwe tegnologie en moderne tye gebring kan word. Eskom moet kan meeding met ander kragopwekkingsmaatskappye wêreldwyd,” het Ramaphosa gesê.
Hy het gesê Suid-Afrika is dalk die grootste kragopwekker op die vasteland, maar dit het teen ʼn enorme finansiële koste gekom. “Een van die grootste uitdagings is die skuld wat ons moes aangaan om Medupi en Kusile [in Mpumalanga] te bou. Om dié kragsentrales op te rig, moes ons ʼn klomp geld gaan leen en vandag is Eskom se skuld meer as R400 miljard – skuld wat die regering moet dra.”
Ramaphosa het gesê die land se ekonomie ly nou daaronder, maar stappe word wel gedoen om die situasie om te keer.
Die president het ook weereens benadruk dat die sukkelende Eskom nié geprivatiseer gaan word nie, maar wel in drie afdelings hervorm gaan word. “Dit sou wees soos om jou familie te verkoop en ons gaan dít nie doen nie. Eskom bly in staatsbesit,” het Ramaphosa gesê.
Hy het ook gesê geen sinistere motief dryf dié besluit om Eskom in drie eenhede – opwekking, transmissie en verspreiding – te verdeel nie.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
13 Kommentare
Om by so ‘n enorme aanleg ontwerpersfoute reg te stel, en dan nog heelparty ander foute ook, het hulle net die planne oor geteken, of hoe lank neem dit om die gevolglike struktuele ook van voor af op te bou, so ‘n jaar lyk my as ek ons president reg verstaan? Maar dis iets om komende jaar na uit te sien. Dit sou nogal werklik ‘n riem onder die hart gewees het en ook vir die graderingsagentskappe ‘n enorme plus as ons president vir ‘n slag gister die lint kon knip of die sjampanjebottel teen die boeg breek en verklaar,… Lees meer »
Hulle kan dit nie privatiseer nie want dan is daar kaders sonder werk en die probleem met Medupi is die plaaslikke sakelei wat hulselle tydens die konstruksie periode verryk het tot nadeel van die land.
Mr Ramaphosa, as jy dit glo………….
Hulle kan netsowel reuse kerse op elke gebou monteer en die plek herbenoem na N’Candle.
Cyril Ramaphosa het dit blykbaar in sy toespraak 6 x aan die personeel en werkers herhaal dat Eskom NIE geprevatiseer sal word nie, natuurlik is dit vir hulle krities belangrik, ook vir die vakbonde wat dit nie genoeg kan hoor nie, maar ek glo waarom Cyril so gaande was om te kon vertel watter belangrike rol steenkool steeds in die land se opwekkingsrol gaan speel, is mos eitlik wat hulle wil hoor want steenkool moet gemyn word, en dit beteken werk, werk, werk… OK en dan het hy gister aan die private sektor uitgespel dat hulle sal meer moet transformeer,… Lees meer »