Meegevoel betuig met familie van vermoorde beamptes

(Foto: SA Polisie)

Polisieminister Bheki Cele en burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit in Kaapstad, JP Smith, het Donderdag die familie besoek van die twee beamptes wat oorlede is ná ʼn skietery in Philippi.

Jan Nieuwenhuys (49) laat ʼn vrou en vier kinders agter. Hy het 25 jaar diens in die polisie en sou aan die einde van die jaar afgetree het.

Simtembile Nyangiwe (43) was ʼn pa van drie kinders, die jongste ʼn baba van 11 maande. Hy was die gesin se broodwinner en het ook vir sy bejaarde ma gesorg.

Smith het gesê albei mans was toegewyde beamptes en liefdevolle gesinsmense. “Hulle was broodwinners en hul verlies sal op baie vlakke ervaar word.”

Maroela Media het vroeër berig die twee polisiebeamptes was Woensdag op diens by ʼn konstruksieperseel in Sweet Home, Philippi, om werkers te beskerm as hulle aangeval sou word. Die twee beamptes is egter self oorval en geskiet. Albei beamptes is met ʼn helikopter na ʼn hospitaal geneem vir dringende behandeling, maar hulle het in die hospitaal aan hul beserings beswyk.

Cele het besoek afgelê aan Delft, waar Nyangiwe se gesin woon, en Thornton, waar Nieuwenhuys se gesin woon.

Smith het gesê vyf persone is vinnig ná die voorval in hegtenis geneem in verband met die skietery. Beamptes het beslag gelê op vier vuurwapens, waaronder die twee vermoorde beamptes se gesteelde vuurwapens. “Inligting op die toneel het polisiebeamptes na ʼn plakkershuis in die Ramaphosa- informele nedersetting gelei.”

Smith het sy meegevoel betuig met die twee families. “Dit is ʼn pynvolle herinnering dat ons wetstoepassers daagliks hul lewens op die spel plaas om kwesbare gemeenskappe te beskerm.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Al ·

So onnodig, die sterftes. Politici praat van ongelykheid en armoede, maar soveel kriminaliteit word gepleeg deur gierigheid.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.