Meer as 1 000 in Limpopo aangekeer

Die polisie van Limpopo het tydens ‘n gesamentlike operasie die inhegtenisnemings gemaak (Foto: Verskaf)

Die polisie in Limpopo het die afgelope week tydens ʼn gesamentlike operasie altesaam 1 574 verdagtes in hegtenis geneem vir verskeie oortredings. Een van hulle was ʼn 14-jarige meisie wat vir meineed vasgetrek is nadat sy verlede Vrydag glo ʼn vals saak van ontvoering by die Tzaneen-polisiestasie aanhangig gemaak het.

Lt.kol. Mamphaswa Seabi, polisiewoordvoerder, sê die meisie het die polisie ingelig dat sy en ʼn vriend, ʼn leerder van die Meridian College in Tzaneen, op pad huis toe was, toe ʼn onbekende aantal verdagtes in ʼn wit paneelwa verbygery het en haar en haar vriend gegryp en in die voertuig probeer indwing het.

“Die saak is as dringend geprioritiseer en daar is vasgestel dat dit ʼn versinde storie is. Voorafgaande ondersoeke het aan die lig gebring dat daar nooit ʼn ontvoering was nie en dat sy nie eens by ʼn vriendin was nie,” sê Seabi.

Die meisie staan tereg op aanklag van meineed en is in die sorg van haar ouers.

Die saak is ook na ʼn maatskaplike werker verwys vir verdere assessering.

Die ander verdagtes, tussen 19 en 57 jaar, is vasgetrek vir klagte wat wissel van moord, poging tot moord, roof, verkragting, seksuele aanranding, ernstige aanranding en seksuele aanranding, tot veediefstal, dronkbestuur en stropery.

Die verdagtes is onder meer by verskeie padblokkades in die provinsies vasgetrek.

Die polisie het onder meer beslag gelê op altesaam 707 620 pakkies sigarette, wapens, dwelms en drank.

Inspeksies is by kuierplekke en drankwinkels gedoen, beskermingsbevele is beteken, talle sjebiens is gesluit en 16 954 voertuie en 33 403 mense is deursoek. Byna 2 000 verkeersboetes is uitgereik.

Seabi sê onder die verdagtes is drie mans wat in die Vaalwater-gebied, digby Lephalale, vir beweerde stropery vasgetrek is. Plaaslike veiligheidsmaatskappye het met dié inhegtenisnemings gehelp.

“Die lede het die beweging van hierdie verdagtes dopgehou tot hul wit bakkie langs die R33-pad opgemerk is. Tydens die soektog is daar beslag gelê op ʼn swart knaldemper, ʼn mes en ʼn vuurwapen en ammunisie. Daar is ook op hul wit Chevrolet-bakkie beslag gelê.”

Lt.genl. Nneke Ledwaba, die provinsiale polisiekommissaris in Limpopo, het die inhegtenisnemings verwelkom en die gemeenskap bedank wat waardevolle inligting aan die polisie verskaf het.

“Dit is ʼn bewys dat die polisie in die provinsie vasberade is om alle vorms van misdaad te beveg,” het Ledwaba gesê.

Al die verdagtes sal in verskillende landdroshowe in die provinsie verskyn.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Persheks Adri ·

Hoekom word sigarette en drank gevat? Dis mos oop… Die res kan ek verstaan, want dis ernstig…

Cele seker baie beindruk met homself

Persheks Adri ·

Dan kan ek daar gaan sigarette kry free mahala verniet ne! As hulle Kent Menthol het eish

Colin ·

Want die sigarette word steeds onwettig ingesmokkel en geen doeane en aksynsbelasting word daarop betaal nie. Die drank is sekerlik by onwettige kuierplekke gekonfiskeer wat ook weereens nie belasting betaal of aan veiligheidsveresistes voldoen nie. Kom ons wees bietjie positief dat die SAPS vir ‘n verandering pro-aktief optree!

Androclus ·

Opskrif 1000 in Limpopo aangekeer.Vraag is hoeveel omkoopgeld is aanvaar

Nie Verbaas ·

Hoed, is jy nog steeds seker dat misdaad verminder het? ANC faal liederlik met georganiseerde en doeltreffende wetstoepassing. Daarby n tekort aan suksesvolle veroordeling in howe.

Nick ·

Mooi man. DIT is wat ons verwag van ons manne en vroue in blou. Nog. Nog asb.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.