Meer as 1 000 jaar tronkstraf ná petrolbom in bus

Polisiebeamptes destyds op die toneel. (Foto: SAPD)

Drie mans is altesaam 18 lewenslange vonnisse en meer as 1 000 jaar tronkstraf in die hooggeregshof in Polokwane opgelê nadat hulle meer as drie jaar gelede ’n petrolbom in ’n bus vol mynwerkers gegooi het.

Ses mynwerkers van die Modikwa-platinummyn naby Burgersfort het gedurende dié aanval op 2 April 2018 onherkenbaar verbrand terwyl 47 ander ernstige brandwonde opgedoen het.

Sipho Khumalo (32), Philemon Makwana (37) en Thabo Mogala (31) is Woensdag elkeen ses lewenslange vonnisse opgelê en ’n verdere 470 jaar tronkstraf vir 47 aanklagte van poging tot moord.

Die drie mans is ook ’n verdere vyf jaar tronkstraf opgelê vir kwaadwillige saakbeskadiging.

’n Vierde beskuldigde, Kaogelo Moime (30), is in 2019 skuldig bevind nadat hy skuld beken het. Moime is op sy beurt 25 jaar tronkstraf opgelê vir ses aanklagte van moord en ’n verdere tien jaar vir 47 aanklagte van poging tot moord.

Maroela Media het destyds berig die mynwerkers was in die vroeë oggendure met die bus op pad na die Modikwa-platinummyn naby Burgersfort. Die aanvallers het op die R37 op die bus geklim, vlambare vloeistof in die bus uitgegooi, dit aan die brand gesteek en vinnig uitgespring voor hulle van die toneel gevlug het.

Die werkers was ten tyde van die aanval op pad om nagskof te werk.

Moniccah Mabilo (57) van Ga Mahlokwane, Johannes Malepe (56), Ziphora Makuwa (48), albei van Driekop, Solomon Komana (37), Simon Mahlokwane (42), albei van Ga Mahlokwane, en Pheta Ranku (58) van Lesotho is gedurende die aanval dood.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Hannes ·

En die verantwoordelik vir die Kerkstraat bom en ander terreur in die 80’s is vandag helde.

Cherokee ·

en die moordenaars robert mcbride en sy vriende is vrygestel.

Elinette ·

Netso, die grootste kommunis en beplanner ágter van die wreedste aanvalle op die gewone publiek, Nelson Mandela, is tot “volksvader” (gelukkig nie myne nie!) en nasionale held verklaar.

pdbpta ·

Vergelyk dit met die toekoms, finansies en miljoene lewens wat Zuma verwoes het en vra:
Is daar gelykheid in ons Reg?

ES ·

Dis net jammer die vonnisse word gelyklopend uitgedien…. daardie mense was oppad om eerlike werk te gaan doen om vir hul families te kan sorg.

Cabytheron ·

Daar bestaan geen geregtigheid in Suid Afrika nie. Daar gaan wel ‘n goeie rede wees hoekom hulle na 15j weer vry sal wees!

Wielspore ·

Ek hoop van harte dat stakers wat na geweld oorgaan kennis neem van die vonnis, as jy wil staak is dit jou reg, as jy skade veroorsaak en of mense beseer is dit onreg, dan moet jy maar die gevolge dra van jou optrede.

Peetjie ·

Ek hoop dit stuur n boodskap aan al die onsinnige aanvalle op mense…

Heinrich ·

Hoop nie alles word weer gelyklopend nie uitgedien nie. MM, enige kans dat wanneer parool in aanmerking gaan kom by die beriggewing ingesluit kan word asseblief?

Anoniem ·

Die rede vir herdie verskriklike misdaad? Dit gaan nog erger word want tronkstraf is nie genoeg om die moordenaars te stuit in hul gruweldade nie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.