Meer as 1 000 poste vakant in SA howe

Die hooggeregshof in Johannesburg. (Foto: Christel Cornelissen)

Daar is tans meer as 1 000 vakante poste in Suid-Afrikaanse howe. Sommige poste is boonop die afgelope jaar al vakant. Ronald Lamola, minister van justisie, het in antwoord op ʼn parlementêre vraag deur die DA laat blyk daar is 889 vakante poste in die laer howe en 163 vakante poste in die hoër howe.

“Die chroniese tekort aan personeel in ons howe het ernstige gevolge vir Suid-Afrikaners wat op soek is na geregtigheid vir die misdade wat teen hulle gepleeg is. Hierdie vakante poste, wat insluit hofbeamptes en voorsittende beamptes, het tot gevolg dat ons juridiese stelsel nie in staat is om sy grondwetlike mandaat teenoor die mense van Suid-Afrika na te kom nie,” sê adv. Glynnis Breytenbach, DA-skaduminister van justisie.

Luidens die NVG se jaarverslag is 34 000 hofsake aan die einde van die 2018-’19-boekjaar nie afgehandel nie. Die aantal onopgelosde sake is boonop meer as in 2017, toe 30 000 onopgelosde sake aangeteken is.

Breytenbach sê daar is duidelik ʼn oponthoud in die aanstellingsproses wat onmiddellike aandag verg. Volgens haar is dit die departement van justisie se verantwoordelikheid om vakante poste te adverteer. Die geregtelike dienskommissie is dan getaak om onderhoude met kandidate te voer en aanbevelings vir aanstellings te doen. Die president moet regters aanstel op aanbeveling van die dienskommissie.

“Die DA sal daarom aan die voorsitter van die parlementêre komitee van justisie en korrektiewe dienste skryf om te versoek dat die departement, die dienskommissie en die president voor die komitee verskyn sodat ons kan bepaal waar die oponthoud lê in die aanstelling van landdroste, regters en geregtelike ondersteuningspersoneel,” sê Breytenbach.

Breytenbach verwys na die polisie se misdaadstatistieke wat daarop dui dat gevalle van moord en verkragting toeneem. “Dit is nie nou tyd vir ʼn onbevoegde regstelsel nie. Hierdie vakante poste is onaanvaarbaar wanneer ons mense, veral vroue en kinders, op ʼn daaglikse basis slagoffers is van hierdie gruwelike misdade,” sê Breytenbach.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Gert van Wierdapark ·

Ouens en doedies wat WIL WERK, doen asb aansoek sodat reg en geregtigheid kan terug keer in die land! Miskien moet Solidariteit of Afriforum die “aflos1stokkie” optel en begin “hardloop” sodat die poste nie oor 5 jaar nog steeds vak-ant is nie!

marous ·

Die beroep vereis dat mense eerbaar moet wees . Daar is blykbaar ‘n te kort ….

LANA ·

Ek praat van persoonlike ondervinding…
en dan is daar mense wat aan alle vereistes voldoen – behalwe een…
hulle is nie die regte ras nie.

Anel ·

Daar is genoeg bevoegde mense wat aangestel kan word, maar ongelukkig is hulle nie van die regte kleur nie. En dit is ‘n feit. Soos wat dit orals gaan. As daar nie genoeg onbevoegdes is nie, word die poste maar nie gevul nie. Sal om die dood nie meer bevoegdes aanstel nie. Dit is hoekom hierdie land van ons so in sy kanon is. Ai, tog!

Annalize Pienaar ·

Die wat kon en wou werk, was nie goed genoeg nie.

Hannah ·

Dit is juis hierdie gesindheid wat veroorsaak dat situasies soos die ontstaan. Wat het jy om te verloor deur aansoek te doen vir poste. Jy mag dalk net dié een wees. Hou op met kla as jy nie bereid is om te probeer nie. Aanhouer wen.

elisma ·

Waar kan mens al die poste sien? want op die DOJ webtuite wys net 3 poste beskikbaar.

Andre ·

Bevoegde blankes word nie aangestel nie daarom die probleem. Die land kan eerder vergaan onder misdaad as wat hulle blankes sal aanstel. Die misdaadsyfers spreek vanself.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.