Meer as 1 000 voertuigbestuurders dié Paasnaweek in hegtenis geneem

Argieffoto bloot ter illustrasie van die verkeerspolisie. (Foto: Siyabulela Duda/GCIS)

Meer as 1 000 voertuigbestuurders is sedert die begin van die Paasnaweek in hegtenis geneem en soveel as 900 voertuie is geskut.

Die inhegtenisnemings hou verband met verskeie oortredings insluitend dronkbestuur, vals bestuursdokumentasie wat aangebied is, roekelose bestuur, bestuur sonder ʼn geldige rybewys, onpadwaardige voertuie en voertuie wat met goedere of passasiers oorlaai is.

Voertuie is hoofsaaklik in KwaZulu-Natal en Mpumalanga geskut weens die oortreding van openbare vervoermaatreëls.

Die 2024 Paasfees-padveiligheidsveldtog is op 20 Maart in Mkhondo van stapel gestuur met die doel om verantwoordelike en veilige padgebruik te bevorder, asook om die aantal padongelukke en sterftes te verminder en padgedragsverandering gedurende die Paastyd te verbeter.

Maroela Media het vroeër berig dat Paasnaweek met verhoogde verkeersvolumes geassosieer word met reisigers wat vir ʼn wegbreek oor die langnaweek, familiebyeenkomste of godsdienstige saamtrekke die langpad aandurf.

Hierdie oplewing in verkeer stel egter aansienlike padveiligheiduitdagings, met owerhede wat motoriste dikwels waarsku om versigtig te wees weens die groot aantal voertuie op paaie.

Verhoogde verkeersvolumes is Donderdag en Vrydag vanaf ongeveer 10:00 op die N1-Noord en N3-Suid ervaar met gemiddeld 2 000 voertuie per uur wat by verskeie tolhekke aangeteken is.

Die N4-Oos het 1 900 voertuie per uur aangeteken, terwyl N1-Suid gemiddeld 1 000 voertuie per uur aangeteken het.

Owerhede het altesame 916 927 verkeersboetes vir verskeie oortredings in hierdie tydperk uitgereik.

Wetstoepassingsoperasies sal vir die duur van die langnaweek op groot roetes en in woongebiede voortduur om nakoming van verkeersregulasies te verseker.

Met die Paasnaweek wat nou tot ʼn einde kom het Vusi Shongwe, LUR vir gemeenskapsveiligheid, sekuriteit en skakeling in Mpumalanga, Sondag ʼn beroep gedoen op diegene wat lang afstande reis “om voldoende langs die pad te rus”.

Hy benadruk dat moegheid die kwaliteit van besluite wat bestuurders neem ernstig beïnvloed, en sodoende meer padongelukke kan veroorsaak.

“Bestuurders moet gereeld ʼn blaaskans vat. Hulle moet konsentreer en uiters waaksaam bly. Ons stel voor dat voertuigbestuurders elke twee uur of 200 km stilhou om te rus.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.