Meer as 1 400 polisievoertuie in Gauteng buite diens

(Argieffoto)

Altesaam 1 407 polisievoertuie by polisiestasies in Gauteng is nie in gebruik nie.

Bheki Cele, minister van polisie, het dit bekend gemaak in ʼn skriftelike antwoord op ʼn vraag van die DA wat in die Nasionale Vergadering ter tafel gelê is.

Cele het in sy antwoord bevestig dat daar altesaam 498 polisievoertuie beskikbaar is wat vir ondersteuningsdienste gebruik word, asook 1 957 voertuie vir sigbare polisiëring en 1 919 voertuie wat deur speurders gebruik word.

In geheel is daar 4 374 polisievoertuie by Gauteng se polisiestasies in gebruik, het Cele gesê.

Altesaam 95 voertuie vir ondersteuningsdienste, 802 voertuie vir sigbare polisiëring en 510 voertuie vir speurdienste is nie in gebruik nie. Dit is ʼn getal van 1 407 polisievoertuie wat buite diens is.

Volgens Cele maak die voertuie wat vir landelike veiligheid ingespan word, deel uit van die vloot wat vir sigbare polisiëring gebruik word.

Michael Shackleton, DA-woordvoerder vir gemeenskapsveiligheid in Gauteng, sê die aantal voertuie wat buite diens is, is uiters kommerwekkend veral in ʼn provinsie soos Gauteng wat juis onder erge misdaad gebuk gaan.

“Die gebrek aan voldoende polisievoertuie belemmer die dienslewering van die polisie. Dit plaas ook die veiligheid van inwoners van die provinsie in gevaar omdat doeltreffende polisiëring nie gehandhaaf kan word nie omrede daar nie genoeg voertuie beskikbaar is nie,” sê Shackleton.

Die DA doen ʼn beroep op Cele en die Gautengse LUR vir gemeenskapsveiligheid, Faith Mazibuko, om toe te sien dat al die voertuie wat nie in gebruik is nie, na die onderskeie polisiekantore teruggebring word om dienste aan die inwoners van Gauteng te lewer.

Die DA onderneem om nóg vrae in die Nasionale Vergadering en die Gautengse provinsiale wetgewer te rig om onder meer vas te stel wanneer die ongebruikte voertuie weer in bedryf gestel gaan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Persheks Adri ·

Uiters swak diens soos altyd van die klomp! As daar nie maskers gedra word nie is daar orals “vans” maar moet nie sê daar is ‘n misdaad gepleeg nie! Cele jy en jou mense darem pffft tsssk net ons maak in elk geval nie staat op hulle nie

Dries ·

Mens sou dink die Polisie Departement het ten minste een toegewyde werkswinkel met goed opgeleide voertuigwerktuigkundiges in elke provinsie, om na hulle voertuie om te sien. Dieselfde sou geld vir die Departement van Gesondheid vir ambulanse ens.

Persheks Adri ·

Dit was voor 1994 Dries toe alles nog reg gewerk het pffft

Deon ·

Net nog n gemors van die ANC… Ek sou so, so skaam gekry het om al hierdie vrae te beantwoord as ek in daardie posisie was…. Ek stel voor die DA vra hom, geagte minister, dink u dat u nog in beheer van u verantwordelikheids area is?

AndréS ·

As ek so by die winkels kyk en sien wat in amptelike voertuie gelaai word, wonder ek wat die persentasie privaat gebruik van dié voertuie is teenoor die amptelike gebruik

domheks ·

Cele – die manne in blou kan nie werk sonder ‘n voertuig nie! Die enkeles wat wel bereid is om hulle agterstewe van die stoele af te lig, kan niks doen sonder ‘n voertuig nie. En dan sien jy ook gereeld dat polisievoertuie as skoolbusse/taxis gebruik word. Praat nie eers van die KFC ondersteun nie!

Suzette ·

En die wat wel werkend is word vir privaat doeleindes aangewend.

Nie Verbaas ·

En ons hoef nie eers te wonder hoekom soveel voertuig nie in diens is nie ne. Cele

Hennie ·

Ek sou my kop in skaamte laat sak het as ek ou Cele was. Sies! Maar almal dink mos ons is dieselfde, maar ons is nie. Cele het geen gewete nie…ek het!

Heinrich ·

Ondersoek sommer maar die tenders en persone wat die tenders toegestaan het om die voertuie te diens en reg te maak.

Maggies ·

Waarom nie die voertuie herstel nie? O ja ek het vergeet… die geld is weg.

Genis ·

Dries die goeie ou dae van die “Staats Garage” is verby…

Wondermaarnet ·

Vra vir Cele hoeveel van sy lede is bevoeg om ‘n vuurwapen te kan dra en hoeveel van sy lede wel KAN skiet.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.