Meer as 1 500 pienkvoete vir Nuwejaar

Argieffoto

Talle ouers sal 2019 met pajamadril begin nadat minstens 1 596 babas hul opwagting op Nuwejaarsdag in staatshospitale reg oor die land gemaak het.

Altesaam 837 van die nuwelinge is dogtertjies, terwyl 759 seuntjies in die wêreld verwelkom is.

Luidens ʼn verklaring deur die nasionale departement van gesondheid is die meeste pienkvoete in Gauteng gebore – altesaam 208 dogtertjies en 164 seuntjies. Die departement sê die Chris Hani Baragwanath- akademiese hospitaal in Soweto het die meeste Nuwejaarsbabas van al die staatshospitale opgelewer toe 45 babas op 1 Januarie 2019 in dié hospitaal gebore is.

In die Oos-Kaap is 273 babas op Nuwejaarsdag gebore, waarvan 129 seuntjies en 144 dogtertjies is. Dit sluit in twee stelle tweelinge wat onderskeidelik in die Midlands- provinsiale hospitaal in Graaff-Reinet en die Nelson Mandela- akademiese hospitaal in Mthatha gebore is.

Limpopo het 252 babas in staatshospitale verwelkom, terwyl 165 babas in staatshospitale in Mpumalanga gebore is. In die Wes-Kaap het 164 Nuwejaarsbabas hul opwagting gemaak, met die Noordwes ʼn kortkop agter met 145 nuwe pienkvoete.

Altesaam 119 babas is op Nuwejaarsdag in staatshospitale in KwaZulu-Natal gebore, 81 babas in die Vrystaat en 26 babas in die Noord-Kaap.

Dr. Aaron Motsoaledi, minister van gesondheid, het die ouers gelukgewens met hul nuwe bondeltjies vreugde, ʼn groot geskenk om die nuwe jaar mee te begin. Motsoaledi het ook van die geleentheid gebruik gemaak om ma’s aan te moedig om so ver moontlik hul babas te borsvoed en te verseker dat babas hul volle immuniseringskedule ontvang.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.