Meer as 1 miljoen Oos-Kapenaars ten volle ingeënt

‘n Gesondheidswerker berei ‘n dosis van die J&J-entstof voor.
(Photo by Phill Magakoe/AFP)

Meer as 1 miljoen Oos-Kapenaars is nou reeds ten volle ingeënt teen Covid-19.

Altesame 1 002 813 van die provinsie se bevolking is teen Donderdag teen die koronavirus ingeënt. Die meeste van die mense wat ingeënt is, is in die ouderdomsgroep 60 en ouer. Altesaam 62% van dié ouderdomsgroep is reeds ingeënt.

Die provinsiale departement van gesondheid het dié syfer as ’n “mylpaal” bestempel en gesê dit dra by tot die provinsie se teiken om kudde-immuniteit (4,5 miljoen) teen einde Maart 2022 te bereik.

Die departement het reeds 1 929 675 dosisse in die provinsie toegedien. Dit sluit in 1 362 708 individue wat óf ʼn enkel dosis van Johnson en Johnson se entstof óf albei dosisse van Pfizer se entstof ontvang het.

Altesaam 43 385 gesondheidswerkers in die provinsie is reeds ingeënt.

“Dit is ʼn groot prestasie vir die provinsie, hoewel die departement mense steeds aanmoedig om ingeënt te word,” sê Nomakhosazana Meth, LUR van gesondheid in die Oos-Kaap.

Die provinsie is veral daarop gefokus om registrasies en inentings in sy landelike gebiede te versterk.

Die Oos-Kaap het in dié stadium meer as 8 000 aktiewe gevalle van Covid-19.

Meer as 14 000 pasiënte het sedert Maart verlede jaar weens die virus omgekom met meer as 287 000 bevestigde gevalle tot op hede.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.