Meer as 10 000 gesondheidswerkers in Afrika het Covid-19

(Argieffoto: Gerd Altmann/pixabay)

Meer as 10 000 gesondheidswerkers in 40 Afrikalande het Covid-19 opgedoen, het die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) Donderdag gesê.

Minstens 750 000 gevalle en meer as 15 000 sterftes is reeds in die kontinent aangemeld.

“Die groeikoers plaas toenemend groter druk op gesondheidsdienste oor die kontinent heen,” het Matshidiso Moeti, direkteur van die WGO in Afrika, gesê. “Dit het werklike gevolge vir gesondheidsorgwerkers.”

Inligting oor besmetting van gesondheidsorgwerkers in Afrika is baie beperk, en nie alle lande meld hul statistiek aan by die WGO nie. Voorlopige data wys egter dat gesondheidsorgwerkers meer as 5% van gevalle in 14 lande in sub-Sahara-Afrika verteenwoordig. Medici doen hoofsaaklik die virus op weens ʼn gebrek aan beskermingstoerusting en swak voorsorg- en beheermaatreëls, aldus Moeti.

ʼn Toenemende aanvraag na beskermingstoerusting en reisbeperkings wêreldwyd het tot ʼn tekort aan voorraad gelei. Sowat 41 miljoen items van beskermingstoerusting is egter gereed om van China versend te word om in die behoeftes van 47 Afrikalande te voldoen. Verskeping sal na verwagting hierdie naweek begin.

Slegs 16% van 30 000 klinieke en hospitale wat die WGO oor die kontinent heen geassesseer het, het voldoende voorsorg- en beheermaatreëls. Talle gesondheidsorgsentrums het ook nie die voldoende infrastruktuur om oorbevolking te voorkom nie en minder as 8% het isolasie-kapasiteit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Cheryl ·

Ek wens daar kan net één dag wees waar daar geen berig is oor covid-19 nie. Siek en sat daarvan!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.