Meer as 100 000 in Gauteng doen aansoek vir gr .8-plasing

skooltassie.jpg

(Argieffoto)

Vier dae nadat die departement van onderwys in Gauteng aanlyn aansoeke vir voornemende gr. 8’s oopgestel het, is meer as 100 000 aansoeke al ontvang.

Teen Woensdag het die syfer die 50 000-kerf verbygesteek en teen Vrydagmiddag vroeg het die syfer op altesame 104 504 gestaan.

Volgens die departement hanteer die departement se inbel- en instapsentrums gemiddeld 5 000 oproepe per dag.

“Ons is ook dankbaar teenoor ouers en voogde wie se geduld en begrip die proses gladder help verloop,” sê Steve Mabona, woordvoerder van die departement.

Die aanlyn aansoekproses het Dinsdag geopen. Probleme soos verkeerde ID-nommers en huisadresse het probleme veroorsaak, selfs nadat ouers of voogde die besonderhede by skole laat nagaan het. Sommige ouers was ook bekommerd omdat sommige skole hulle nie help om dié besonderhede te bevestig nie.

“Ons wil ouers wat nog nie hul inligting laat bevestig het nie, aanraai om met die skole in verbinding te tree. As dit nie help nie, word ouers aangemoedig om ons distrikskantore of instapsentrums te besoek of die kontaksentrum te bel by 0800 000 789,” sê Mabona.

Aanlyn aansoeke vir volgende jaar vind vanjaar in twee fases plaas. Die eerste fase het op 10 Augustus afgeskop en duur tot 3 September. Dit is vir ouers of voogde wie se kinders tans in gr. 7 in staatskole in Gauteng is en volgende jaar in gr. 8 sal wees.

Die tweede fase begin op 13 September. In dié tyd kan diegene wie se kinders volgende jaar in gr. 1 of gr. 8 sal wees, maar nie nou in ʼn staatskool in Gauteng is nie, aansoek doen vir plasing. Die proses eindig op 8 Oktober.

Panyaza Lesufi, LUR vir onderwys in Gauteng, sê die syfers dui daarop dat die tweeledige proses in die beste belang van leerders en ouers is en suksesvol is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.