Meer as 100 000 voornemende graad 1’s en graad 8’s al geplaas

onderwys-skool-skole-onderrig-argieffoto

(Foto: Element5 Digital/Unsplash.com)

Die Gautengse onderwysdepartement sê hy het reeds aanbiedinge vir plasings in skole aan 102 971 voornemende leerders gedoen. Hiervan is nagenoeg 14 919 aanbiedinge al aanvaar.

“Dit is kommerwekkend dat ons oproepsentrum oorval word deur ouers wat hul aanmeldbesonderhede vergeet het. Sommige ouers bombardeer skole met versoeke om die plasings namens hulle te aanvaar. Hoewel die kapasiteit van die inbelsentrum verhoog is om ouers in dié tyd te help, word lyne besig gehou deur ouers wat hul besonderhede vergeet of verloor het,” het die departement Vrydag gesê.

Die departement sê hy het vantevore al benadruk hoe belangrik dit is om dié besonderhede veilig te bewaar. Die aanlyn stelsel maak ook daarvoor voorsiening dat gebruikers wat hul gebruikersname of wagwoorde vergeet het, dit kan herwin.

“Ouers wat nog nie aanbiedinge gekry het nie, word herinner dat dit nie aan alle ouers gelyktydig gestuur word nie. Die departement verwerk die aanbiedinge stelselmatig en in ooreenstemming met die volgorde van aansoeke soos uiteengesit in die toelatingsbepalings.”

Ouers sonder internettoegang kan skole of die departement se distrikskantore besoek vir hulp.

“Ons doen ʼn beroep op ouers om kalm te bly as hulle nog nie aanbiedinge vir plasing gekry het nie. Die proses sluit op 31 Oktober vanjaar. Ouers wat reeds aanbiedinge gekry het, moet dit binne sewe dae aanvaar.

“Dit is ook belangrik om te onthou dat die kapasiteit van elke skool uiteindelik bepaal hoeveel aansoekers aanvaar word,” het die LUR vir onderwys in die provinsie, Panyaza Lesufi, gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Rerig ·

Ja en so kan ek nie op die webblad ingaan nie om die aanvaarding te doen. Die onderwys departement is blerrie onprofesioneel

Lizelle ·

Ek ondervind dieselfde probleem met die webblad…dis hulle voorstel, maar nou sukkel ons om ons kind geplaas te kry…

GM ·

Baie van ons ervaar probleme met die ‘link’ wat aangestuur is via sms. Gaan besoek eerder die webtuiste via Google – dit werk darem. En onthou dat daar op twee plekke ‘accept’ gedruk moet word.

Alma ·

Dis so pateties! Hulle plaas oral die stappe om jou password te herwin, maar die website werk nie. In die eerste plek kan jy nie jou username herwin nie, en in die tweede plek kry jy ‘n sms met ‘n kode wat in elk geval ook nie werk nie. Nou wil hulle kom se dis kommerwekkend dat mense hul passwords verloor het. Dis eerder kommerwekkend dat so ‘n swak gehalte webwerf geskep is en niemand aangestel is om darem net seker te maak dat alles “reg” werk nie. Ek kan net my kop skud.

ekstem ·

Ek stem! Ek het die username en password gesave op my rekenaar. Die stelsel herken dit nie. As ek dit probeer reset, aanvaar die eerste stap my ID nommer om by die ‘token reset page’ te kom. Dan versoek dit weer my ID, en kry ek bloot die reply ‘The ID number does not exists’ (netso, taalfout en al). Ek is moedeloos. En hulle het ook nie hulle fone geantwoord, of die eposse wat ek gestuur het nie.

Chaos ·

Daar is n baie groot rede waarom die stelsels nie werk nie. Dis so geproggrammeer sodat ander plasings in jou kind se skool gaan plaasvind en jou kind dan in gat sonder end gaan land in n skool wat nie naastenby die standaarde handhaaf waar jou kind was nie. En dan praat ek nie eens van verandering van skoolklere nie. Al hoe daar behoorlike skommeling in skole kan plaasvind is om so n stelsel in plek te kry om die kinders in te forseer in skole en dit wettig te laat lyk. Sterkte vir almal , hopelik kry jy n uitnodiging en aanvaarding VOOR 31 OKTOBER 2019 by die skool van jou keuse anders dalk nie?

Domvraag ·

Is daar nog iets wat werk?
Hulle wil alles sentraal beheer en is dan nie instaat om dit te doen nie. Pateties

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.