Meer as 100 krokodille soek in Mpumalanga

162 krokodille het ontsnap uit ‘n plaas in Mpumalanga. (Foto: Verskaf)

Skrywer: Narda Vermaak

Meer as 100 krokodille is steeds soek ná dié reptiele in Februarie uit ʼn teelkamp net buite Hazyview in Mpumalanga ontsnap het.

Die krokodille vorm deel van ʼn teelprogram van Nola Farms buite dié dorp.

Volgens die Mpumalanga-toerisme-en-parke-agentskap (MTPA) het die gediertes koers gekies toe die muur van die terrein waarin hulle aangehou word weens swaar reën ineengestort het.

Altesaam 162 diere het uit die kamp weggebreek en sowat 52 is reeds gevang. Die waterreptiele het, na wat verneem word, in die Sand- en Sabierivier beland.

Die MTPA se bestuurder van nakoming en monitering, April Lukhele, het aan Maroela Media bevestig dat hulle reeds ʼn maand lank op soek is na die reptiele wat steeds nie opgespoor kan word nie.

“Daar is nog geen teken van die meer as 100 krokodille wat steeds weg is nie. Ons het sedertdien nog bitter min leidrade ontvang. Om dié rede vra ons mense in die omgewing van Hazyview, Kiepersol, Majika, Da Gama en selfs die Sabierivier om op die uitkyk te wees vir die reptiele.”

ʼn Onbekende aantal krokodille het ook verlede week vanaf ʼn teelplaas buite Bonnievale in die Wes-Kaap ontsnap. Cape Nature het teen gister (Dinsdag) 52 van die reptiele gevang of van kant gemaak.

Lukhele meen dat boere in die omgewing hulle vee moet dophou, veral dié wat uit damme water drink.

Die MTPA het nette gebruik om 12 van die krokodille aan te keer. Die ander 40 is deur die eienaar en werknemers van die teelplaas gevang. Vanghokke is ook opgestel om hopelik meer van die reptiele te lok.

“Die 40 krokodille wat werkers en die eienaar van die plaas gevang het, is na ʼn fasiliteit in Middelburg geneem. Die 12 wat deur die agentskap gevang is, word by MTPA se geriewe aangehou,” het Lukhele gesê.

‘n Vanghok wat die vermiste reptiele moet lok. (Foto: Verskaf)

Hy het bevestig dat die plaas se permit vir die teelprogram tydelik opgeskort is totdat die geriewe herstel is.

Lukhele waarsku mense om uit die diere se pad te bly en dit eerder so gou moontlik by die parkeraad aan te meld. “Krokodille is slimmer as wat mens dink. Ongelukkig kan hulle nie onderskeid tref tussen mense en ander prooi nie en daarom word mense dikwels aangeval.”

Hy meen dat die reptiele ook gewoond is aan mense. “Dit op sigself is nog ʼn groter bekommernis. Onthou, ons praat hier van volwasse, uitgegroeide krokodille.”

Enigiemand wat ʼn krokodil in die omgewing gewaar, kan die MTPA by 013 759 5300 bel. Die nauurse nommers is 083 626 6309 of 082 870 1057.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Roedolf Johannes ·

Swak boerdery,is seker omdat daar geen instandhouding gedoen word nie.Soos in al die plekke waar die ANC hulle hande op lê

Casper ·

Verskoon maar ek is nie vertroud met die Laeveld nie maar is daar nie krokodille wat natuurlik in die genoemde riviere voorkom nie.Hoe gaan hulle dus weet watter is “mak”krokodille.

Jakes ·

Los maar die krokke uit want ten minste sal hulle help om die aanwas in toom te hou.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.