Meer as 100 vas in KZN

Argieffoto: SAPD / Facebook

Argieffoto: SAPD / Facebook

Meer as 100 verdagtes is tydens ʼn groot misdaadbekampingsoperasie in KwaZulu-Natal in hegtenis geneem in verband met verskeie oortredings.

“Operasie Fiyela het in KwaZulu-Natal begin en 108 persone is dwarsoor die provinsie in hegtenis geneem,” het kol. Jay Naicker, woordvoerder van die polisie, gesê. Die persone is onder andere in hegtenis geneem in verband met dwelmhandel, die besit van ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie en persone wat onwettig in Suid-Afrika is.

Volgens Naicker het verskeie eenhede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens, die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag, die departement van binnelandse sake en die metropolisie aan die operasie deelgeneem. “Die doel van die operasie is om ons strate skoon te maak van kriminele elemente en om ons buurte te beveilig,” het hy gesê.

Vyftien persone is in hegtenis geneem vir dwelmhandel of die besit van dwelmmiddels. “Veiligheidsmagte het ook persone geteiken wat onwettig handel dryf met alkohol en agt persone is in verband hiermee in hegtenis geneem,” het Naicker bygevoeg. “Drie persone is in hegtenis geneem in verband met die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie.

Die polisie het beslag gelê op groot hoeveelhede dwelmmiddels, alkohol, gevaarlike wapens, gesteelde goedere en vervalste goedere.

“Veiligheidsmagte het 68 onwettige immigrante in hegtenis geneem,” het hy bygevoeg.

Lt.genl. Mmamonnye Ngobeni, provinsiale polisiekommissaris, het die veiligheidsmagte gelukgewens met hul benadering om misdaad uit te roei. “Ons wil die gemeenskappe gerus stel dat misdadigers aan die pen sal ry,” het sy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

mariaan ·

Wonder hoeveel bly in aanhouding en word gevonnis? Hoekom kry ek die gevoel die is n klugspel van die regering……

Pierre Celliers ·

Vir erge oortredings kon hulle ‘n duisend vastrek as hulle wou!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.