Meer as 100 vas oor Noordwes-geweld

Gewelddadige betogings woed in Mahikeng in Noordwes (19 April 2018). Foto: ANA

Meer as 100 mense is in hegtenis geneem in verband met die gewelddadige betogings wat die afgelope week in Noordwes gewoed het.

Brig. Vishnu Naidoo, woordvoerder van genl. Khehla John Sitole, die nasionale polisiekommissaris, het gesê dié verdagtes, onderskeidelik tussen 18 en 60 jaar oud, is in Mahikeng, Mmabatho, Delareyville en Lomanyaneng in hegtenis geneem. Aanklagte staar hulle in die gesig wat wissel van openbare geweld en opsetlike saakbeskadiging tot sakeroof en besit van vermoedelik gesteelde goedere.

“Hierdie verdagtes sal deur die hofprosesse gelei word en die SAPD sal seker maak dat die volle mag van die gereg hulle in die gesig staar om ʼn einde te bring aan hierdie wettelose gedrag,” het Naidoo gesê.

Sitole het die geweld in Noordwes ten sterkste veroordeel. “Iets wat begin het as protesoptrede het in blatante misdaad ontaard. Voertuie is aan die brand gesteek, winkels en geboue is geplunder, daar is by private en regeringsgeboue ingebreek en dié geboue, waaronder ʼn polisiestasie, is beskadig. Dié kriminele gedrag het ook na Wolmaransstad, Makwassie, Itsoseng, Zeerust, Vryburg, Delareyville, Taung, Pudimoe en Christiana versprei,” het hy gesê.

Betogings naby Mahikeng in Noordwes (18 April 2018). Foto: Twitter

“Die onlangse verlies van lewe en die voortgesette beskadiging van eiendom kan nie goedgepraat of verder toegelaat word deur enige sektor of die samelewing in geheel nie. Sulke gedrag stel nie net die land in ʼn uiters negatiewe lig nie, maar benadeel ook drasties groei en ontwikkeling in hierdie gebiede.”

Sitole het ʼn beroep op die Noordwes-gemeenskappe en gemeenskapsleiers gedoen om hul samewerking te gee ten einde oplossings vir die geweld op vreedsame wyse te vind.

Polisiebeamptes sal in die provinsie ontplooi bly totdat die situasie weer bestendig en normaal is.

Maroela Media het vroeër berig woedende Noordwes-inwoners het die afgelope week die strate van verskeie gebiede in die provinsie ingevaar om te eis dat Supra Mahumapelo as premier van die provinsie bedank. Pres. Cyril Ramaphosa moes sy besoek aan die Verenigde Koninkryk kortknip om hom terug na Suid-Afrika te haas en dadelik Noordwes te besoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Ja hoor ·

En more brand die EFF weer die hofgebou uit en almal word vrygelaat ..

Reguit ·

Woordjies soos “100 vas” het geen impak meer nie. Dit word as leë en nuttelose propaganda gesien van ‘n land wat dieselfde waarde as ‘n rioolput het. Want more is daardie 100 weer uit terwyl die tronke reeds lankal oorvol is. Oormore hoor ons weer dat “200 is vas”, maar net die dag daarna is hulle ook weer uit, en die week daarna brand en plunder hulle net wéér ‘n nuwe dorp tot op die grond. So ‘n belaglike spul. Beste opsie is om die hool te verlaat.

Polonie ·

Nee wat, spaar die moeite en sommer baie belasting betalers geld ook!…..moenie eers die moeite doen om hof toe te gaan nie. Stem heeltemaal saam dat hier niks van gaan kom nie en more gaan hulle maar weer voort op die ou trant asof niks gebeur het nie! Dis mos hulle reg om so op te tree, ek kan glad nie verstaan hoekom die arme benadeelfes nou vasgevat word nie en almal nou so ongelukkig is nie.
Viva die nuwe Suid Afrika!!! VIVA!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.