Meer as 14 000 vuurwapens vernietig

Van die vuurwapens wat op 9 Julie 2015 vernietig is Foto: SAPD, Facebook

Van die vuurwapens wat op 9 Julie 2015 vernietig is Foto: SAPD, Facebook

Die Suid-Afrikaanse Polisiediens het Donderdag op Internasionale Vuurwapenvernietigingsdag altesaam 14 382 vuurwapens vernietig.

Die vuurwapens is by Arcelor Mittal se staalaanleg in Vereeniging van kant gemaak.

“Daar is gans te veel onwettige vuurwapens daar buite. Daar is nie ʼn dag wat verbygaan waar ʼn onwettige vuurwapen nie gebruik word om misdaad mee te pleeg nie,” het genl. Riah Phiyega, nasionale polisiekommissaris, tydens die geleentheid gesê.

Volgens Phiyega het polisiebeamptes die afgelope finansiële jaar 771 vuurwapens verloor. “Ons het in ʼn stadium 5 000 vuurwapens verloor,” het sy gesê. “Ons vaar dus goed, maar ons moet nog beter doen. As die polisie moet ons na ons vuurwapens omsien.”

Sy het verwys na kol. Christiaan Prinsloo wat Woensdag in die Bellville-landdroshof verskyn het op aanklag van korrupsie, swendelary, moord en poging tot moord en geldwassery. Hy was in bevel van die Vuurwapen, alkohol en tweedehandsegoedere-beheer in Gauteng. “Met 36 jaar se ondervinding was daar niks wat hy nie geweet het oor vuurwapens en ons wetgewing nie. Ons het op hom staat gemaak vir sy kundige advies,” het Phiyega gesê. “Ons is uiters teleurgesteld en baie kwaad. Honderde vuurwapens is glo gesteel en aan bendelede verkoop. Hierdie man het by die polisie en by die samelewing gesteel. Ons is oortuig dat die hof hom hopelik sal skuldig bevind gebaseer op die getuienis wat ons bymekaar gemaak het.” Sy het gesê die polisie sal ook sy pensioen terughou. “Onskuldige mense het gesterf weens sy beweerde selfsugtige dade. Dit kan nie geduld word nie.”

Nog drie persone is in hegtenis geneem in verband met die groot ondersoek in die Wes-Kaap.

Volgens Phiyega is twee beamptes, insluitend ʼn brigadier, afgedank sedert die polisie die sentrale vuurwapenregister op die been gebring het. “Talle persone het bedank nadat hulle in kennis gestel is dat hulle dissiplinêr verhoor gaan word. Drie persone is geskors.”

Sy het ook die nuwe hoof van die sentrale vuurwapenregister, genl.maj. Maropeng Momethethi, aangekondig. Sy is al 26 jaar lank in die polisie en was onlangs adjunk provinsiale bedryfskommissaris in die Noord-Kaap.

Die polisie het 9 447 vuurwapens in Januarie vernietig. “Meer as 120 000 vuurwapens is die afgelope vier jaar vernietig, en ons sal voor die einde van die jaar weer terug wees om nóg vuurwapens te vernietig,” het Phiyega bygevoeg.

Van die vuurwapens is vrywillig deur die wettige eienaars aan die SAPD oorhandig, van die vuurwapens is gekonfiskeer nadat dit in ʼn misdaad gebruik is en van die vuurwapens was in onwettige besit.

Sy moedig enigiemand aan wat bewus is van ʼn onwettige vuurwapen, om dit aan te meld by 0860 010 111.

Vuurwapenvernietigingsdag word jaarliks wêreldwyd volgens die Verenigde Nasies se kalender, op 9 Julie gedenk.

A total of 14 382 firearms were destroyed at the Arcelor Mittal Steel Factory in Vereeniging today.

Posted by South African Police Service (SAPS Official Page) on Thursday, 9 July 2015

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

nico ·

Kan die genl se hoeveel vuurwapens wat vernietig is was vrywillig ingehandig

Louis ·

Hoeveel van daai onwetige vuurwapens het wegeraak uit die sapd se kluise daarvan sal ons nooit hoor nie

Winston ·

Vuurwapens maak nie mense dood nie. Mense maak mense dood.

fiki ·

Prinsloo se storie is nie deur maroela geplaas nie… Ja nee. Die WIT waarheid sal uitkom.

Peet Schabort ·

Maar plaasmoorde en ander geweld gaan ongestoord voort. Nico se vraag van hoeveel is gelisensieerde privaat eienaars se wapens wonder ek ook oor.
Ek weet van die vernietiging van vuurwapens maar die van kant maak aan die begin van die berig lyk nie reg. ‘Van kant maak’ word gewoonlik by diere gebruik.

Des jelliman ·

Die kriminele faktor moet eers in die polisie moet eers uitgewis word dan sal reg en geregtigheid in di polisie voortbestaan hulle leuse is dien en beskerm wat tans ni gebeur ni

Martin ·

Kan iemand asb. vir my probeer verduidelik hoe verloor die SAPD 5000 vuurwapens. Dit is bokant my vuurmaak plek.

CHRISTA ·

Ek vermoed hulle verkoop dit en meld dit dan aan as “verloor/lost”. Hoeveel vuurwapens het die apartheid-regime se polisie jaarliks verloor?

scalla ·

een verlore/gesteelde vuurwapen is een te veel, hoe redeneer sy daar is n verbetering, lagwekkend

Christie Joubert ·

Daar is nie “gans te veel onwettige vuurwapens” nie. Daar is “gans te veel kriminele” daar buite. Meeste van daardie vuurwapens is gesteel by iemand wat deur baie rompslomp moes gaan om dit te bekom. Kry die kriminele uit die pad uit!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.