Meer as 150 diere in haglike omstandighede aangehou

Van die diere waarop daar beslag gelê is. (Foto: Randburg-DBV/Facebook)

Die Dierebeskermingsvereniging (DBV) in Randburg gaan strafregtelike klagte indien nadat meer as 150 eksotiese diere oor die naweek by ’n eiendom in Johannesburg aangetref is.

Talle chinchillas, hamsters, rotte, muise, papegaaie en konyne is in haglike omstandighede op die betrokke eiendom in Emmarentia aangehou. “Die diere het swaargekry,” sê Shiven Bodasing, hoof van die DBV-inspektoraat.

Die DBV het Saterdag ’n wenk ontvang oor ’n groot aantal eksotiese diere wat op die eiendom aangehou word waarna Bodasing en inspekteur Bradley Hughes ondersoek ingestel het.

Bodasing en Hughes het met hul aankoms opgemerk dat die erf onversorg was en papegaaie kon vanuit die huis gehoor word. Die inspekteurs het die eienaar genader waarna hulle die huis binne is.  Tientalle chinchillas was in hokke in die huis opmekaar gestapel. Die hokke was in donkerte gehul en die stank van ammoniak het in die lug gehang.

Nog inspekteurs, lede van die polisie en vrywilligers is na die eiendom ontbied waar daar op meer as 150 eksotiese diere beslag gelê is. Die diere was almal verwaarloos en vreesbevange.

Die diere word tans by die DBV in Randburg versorg. Die DBV gaan nou strafregtelike klagte teen die eienaar indien.

Bodasing doen intussen ’n beroep op diere-eienaars om nie diere aan te hou indien daar nie in die diere se behoeftes voorsien kan word nie.

“Moenie diere aanhou net om diere te hê nie. Dit is jou verantwoordelikheid om te verseker dat hulle ’n gehaltelewe het.”

Vir meer inligting oor geldbydraes of skenkings van dierekos en ander dierebenodigdhede aan die Randburg-DBV, besoek die tak se Facebookblad hier.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Maggies ·

Kyk ek kan nog aanvaar as mense verkeerd teenoor mekaar optree, want hulle gee nie om nie en kan nog hulself beskerm.
Wanneer onskuldige diere en kinders in die prentjie kom en hulle word benadeel, dan sien ek rooi.
‘n Boete is hier nie eens ter sprake nie. Toesluit en los hulle ook in haglike omstandighede, sonder keuse vir borgtog…dít sal my tevrede stel.

Sêmanet ·

Hierso gaan dit glad nie om diere te hê net oor jy diere wil hê nie. Daar is markte vir hierdie dinge. Want as hul die diere aangehou het oor hulle hou van diere, sou DBV nie nodig gehad het om in te tree nie. Hulle sou versorg gewees het. Hier is alles oor GELD.

Elmarie ·

As mens, party sg troeteldierwinkels besoek wil mens ook iets oorkom . Regtigwaar siek. Soos oumense gese het geld is ‘n euwel

Deon ·

Is dit eksotiese rotte en muise waarvan gepraat word? Het hulle al geruik hoe n bokram kan ruik?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.