Meer as 2 000 skape vrek in koue weer

Foto: Pixabay

Meer as 2 000 skape het vandeesweek in die suidelike gedeeltes van die Vrystaat gevrek weens ongewone koue weerstoestande.

Herman Archer, ondervoorsitter van die Nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV) in die Vrystaat, het Saterdag aan Maroela Media vertel minstens 1 250 van dié skape het aan ʼn enkele boer, DG Snyman van Philippolis, behoort. Jaco du Toit, Snyman se buurman, het in dieselfde tydperk 450 skape verloor.

“Dit is maar die gevalle in een distrik. Die res van die skape wat gevrek het, is aangemeld uit enkele gevalle vanuit die Suid-Vrystaat,” het hy gesê.

Volgens hom is die boere weerloos gelaat nadat hulle skape geskeer is. “Ek het ook dié week my skape geskeer, maar ons het gelukkig net 5 mm reën gehad. Die ander boere wat erge verliese gely het, het 50 mm reën, hael en yskoue wind gehad – ʼn doodsvonnis vir skape. Ons sê altyd die boere kan een van die verskynsels hanteer omdat die diere se lewe dan nie in gevaar is nie, maar al die verskynsels saam is ʼn doodsvonnis.”

ʼn Verlies van 1 250 kom neer op ʼn geraamde skade van R2,5 miljoen. Een ooi sal ongeveer R1 800 kos om weer aan te koop.

“Ek praat met een van die boere oor wat dié week in die Vrystaat gebeur het, en die vraag wat ons albei vra, is hóé herstel jy van só iets – finansieel en emosioneel? Dis maar hoe dit is. Dis nie ʼn menslike fout nie, dis maar die natuur wat sy rug reguit gemaak het. Daar is niks wat ons daaraan kan doen nie, maar dit is ongelooflik slegte nuus vir die boere.”

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het nie nóg reën en ongewone weer vir die distrik voorspel nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Gina ·

Ai dis verskriklik. Ek wonder, sou dit gehelp het as hul die skape in ‘n stoor ingejaag het? Dis n groot verlies. Boere vrees reeds vir hul veiligheid. Dan moet hul nog die natuurelemente ook weerstaan. Sterkte aan julle.

Wit vlaggie ·

Lees asb. die kommentaar wat Vaandel Uitgewers facebook lewer oor rampe!..Ons is skuldig voor God!!!

Anoniem ·

‘n Mens noet jouself dié vraag vra… Is ons werklik so skuldig voor God as wat ons vertel word of word die weer doodeenvoudig gemanipuleer en word ons verdruk op duiwelse maniere deur mense wat God wil speel? Daar is soveel dinge waarvan die algemene publiek nie eens van bewus is nie en ons glo God laat alles maar net geskied omdat ons “skuldig” is! Ons vergaan agv ‘n gebrek aan kennis, ons moet dieper kyk, ons kennis verbreed en die duiwel teenstaan op elke denkbare manier wanr hiérdie is ‘n stryd wat hy voer om ons Christene te vervolg en te verwoes!

Christo ·

Klimaatsverandering is ‘n werklikheid. Die ontrekking van die VSA uit die Klimaatsveranderingverdrag beteken dat lande in Afrika net verder sal swaarkry agv Amerika se gebruik van fossielbrandstowwe.

madels ·

Ek wonder nou net, het die boere nie gesien op die weer voorspelling dat dit baie koud gaan word nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.