Meer as 20 padsterftes oor Paasnaweek in Gauteng

(Foto: Twitter / Gauteng Traffic Police)

Die verkeerspolisie in Gauteng sê meer as 20 padsterftes is tot dusver tussen Donderdag en Maandag in die provinsie aangeteken.

Volgens Sello Maremane, woordvoerder vir die verkeerspolisie in Gauteng, kan die meeste van dié ongelukke toegeskryf word aan bontlopers wat paaie op enige plek oorsteek, roekelose en nalatige bestuur en die verontagsaming van padtekens en verkeersreëls.

Hoewel Paasnaweek amper verby is, het die verkeersdepartement aangedui dat hy nie Maandag op sy louere gaan rus nie, maar sigbaarheid en patrollering op paaie sal verhoog namate motoriste van hul langnaweekbestemmings af huis toe keer.

Hiermee hoop die verkeerspolisie om padsterftes te beperk en wetteloosheid hok te slaan.

Verskeie operasies word nog vir Maandag beplan, waaronder groot padblokkades.

“Die Gautengse verkeerspolisie sal voortgaan om paaie te monitor om te verseker dat voetgangers nie bontloop nie en dat motoriste by spoedgrense hou.

“Motoriste word versoek om waaksaam te wees, aan padreëls gehoor te gee en seker te maak hul voertuie is padwaardig.”

Die departement het sy medelye met die naasbestaandes van slagoffers betuig wat oor Paasnaweek hul lewe op die provinsie se paaie verloor het, en wens ook dié wat in ongelukke beseer is ʼn spoedige herstel toe.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Manie ·

Die verkeerspolisie kan gerus ook diegene wat teen 70 km/h in die middelbaan ry, aftrek en beboet.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.