Meer as 200 000 NSFAS-aansoeke reeds ontvang

Die nasionale skema vir finansiële bystand vir studente (NSFAS) het reeds 50 000 meer aansoeke ontvang in vergelyking met dieselfde periode verlede jaar, het NSFAS Sondag gesê.

Uit die 216 758 aansoeke wat ontvang is sedert aansoeke vir 2020 op 1 September 2019 oopgemaak het, het slegs 10% van die studente aansoek gedoen vir tegniese en beroepsgerigte opleidingskolleges (TVET).

“Dit is ʼn bewys dat ons as ʼn land nog nie TVET-opleiding en die betrokke noodsaaklikevaardigheidsontwikkeling geposisioneer het as ʼn belangrike keuse vir ons nasionale ontwikkelingsideale nie,” het NSFAS in ʼn verklaring gesê.

NSFAS het die 216 758-merk gehaal binne slegs ses weke ná aansoeke oopgemaak het. Aansoeke is oop vir graad 9 tot graad 12-leerders en die naskoolse jeug wat in 2020 verder wil studeer met ʼn beurs van die staat.

Meeste aansoeke is weer van KwaZulu-Natal, Gauteng en Limpopo ontvang. Min aansoeke is ontvang uit die Wes-Kaap en Noord-Kaap. NSFAS het sy pogings verdubbel in dié provinsies en het die samewerking bekom van provinsiale regerings. Die premier van die Vrystaat het NSFAS die afgelope week uitgenooi en daar is reeds beduidende vordering gemaak in dié provinsie.

Meeste van die aansoekers is leerders wat reeds hul skoolloopbaan afgehandel het en by staatsuniversiteite wil studeer.

“NSFAS oorweeg elke aansoek wat ons ontvang. Wanneer ʼn aansoek geprosesseer word, verifieer ons die inligting met die departement van binnelandse sake en die departement van maatskaplike ontwikkeling om ʼn volledige profiel te kry van elke aansoeker en sy familie. Ons neem die algehele huishoudelike inkomste en binnelandse sake- en maatskaplike welsynstatus in ag. Inligting oor jou skool en plaaslike munisipaliteit speel ʼn noodsaaklike rol in die 2020-aansoekstelsel,” het Randall Carolissen, administrateur by NSFAS, gesê.

Dit is belangrik om aan die akademiese vereistes vir tersiêre onderrig te voldoen, aangesien studente slegs gefinansier word indien hulle vir hoër onderrig by ʼn goedgekeurde instansie geregistreer is. Aansoekers uit werkersklasfamilies wie se algehele huishoudelike inkomste minder is as R350 000 per jaar, kom in aanmerking vir ʼn staatsbeurs. Finansiering word egter eers bevestig of toegestaan sodra bewys van toelating tot ʼn hoëronderriginstansie verskaf word. Aansoekers met spesiale behoeftes of ʼn gebrek ontvang die hoogste prioriteit, tesame met begunstigdes van welsynstoelaes.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

skurweberg ·

Watter beroepsleiding het hulle gehad om vas te stel wat hulle wil gaan studeer, Is daar iemand wat wetenskaplik vasgestel het of hulle keuses van studierigtings werklik hulle werkswaardes komplimenteer. Dit is ‘n wetenskaplike proses wat gevolg moet word. As daar iemand daar buite is wat die antwoorde op hierdie vrae kan gee, sal ek dankbaar wees. Dit is weer belastingbetalers se geld wat vermors gaan word as iemand nie antwoorde op hierdie vrae het nie. Ons het die reg as belastingbetalers om te eis dat hulle geevalueer word, voordat fondse beskikbaar gestel word. Geen persoon in die privaatsektor sal studiebeurse ondersteun sonder die nodige bewyse dat die student kwalifiseer en gaan doen wat hy/sy se hulle gaan doen. Geen mens wil beurse ondersteun wat nie op wetenskaplike wyse toegeken word nie.

Biance ·

Dit is nie so maklik om net blyplek en kos te kry nie, daar is baie vorms wat ingevul moet word. Ek self is n NSFAS student en dit het my finansieel gehelp asook my ouers wat my studies sou moes betaal as dit nie vir NSFAS was nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.