Meer as 22 000 sake tans op Valke se tafel

(Argieffoto)

Die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke (die Valke) het tans meer as 22 000 strafregtelike sake op sy tafel wat aandag moet geniet.

Genl. Godfrey Lebeya, nasionale hoof van die Valke, het Dinsdag op ’n mediakonferensie gesê die direktoraat hanteer tans 22 477 strafregtelike sake bestaande uit 500 000 aanklagte. Dit sluit in ’n verskeidenheid sake waaronder korrupsie, dwelmhandel, mensehandel, georganiseerde misdaad, transitorooftogte, kubermisdaad en geldwassery.

Dit sluit ook in polisiemoorde wat aan die Valke opgedra word om te ondersoek, sowel as bedrog wat verband hou met die aankoop van persoonlike beskermingsprodukte tydens die Covid-19-pandemie.

Duisende sake voor howe

Die Valke het die afgelope vier jaar met Lebeya aan die stuur altesaam 12 157 verdagtes in hegtenis geneem in verband met verskeie misdade, van wie 4 447 sedertdien skuldig bevind is.

Die magdom sake wat die Valke egter tans hanteer behels 23 519 verdagtes van wie 12 360 reeds in hegtenis geneem is en in ’n hof verskyn het. Die oorblywende 11 159 verdagtes moet egter nog in hegtenis geneem word en hul dag in die hof kry.

Die hof besluit intussen oor 1 998 sake en sal binnekort gereed wees om uitspraak in dié sake te lewer.

Korrupsie veral ʼn bedreiging

Genl. Godfrey Lebeya (Foto: GCIS)

Korrupsie hou die Valke veral besig. “Korrupsie een van die grootste bedreigings in Suid-Afrika,” het Lebeya op vanoggend se mediakonferensie gesê.

Die Valke se teenkorrupsie-taakspan en operasionele komitee is tans daarmee getaak om strafregtelike ondersoeke, vervolging en bateherwinning te versnel.

Dit word gedoen deur gevalle op ʼn deurlopende basis te selekteer, te prioritiseer en te monitor, het Lebeya gesê.

“Ons het gevalle wat onder die top-100, top-33 en toptien gekategoriseer is.” Hoëprofielsake soos die VBS-skandaal en die omstrede Vrystaatse asbes-ouditkontrak is sommige van die sake wat prioriteit geniet.

Verskeie taakspanne is ook getaak om spesifieke munisipaliteite te ondersoek waaronder die eThekwini-munisipaliteit wat in die sogenaamde Durban-vasteafval-tenderskandaal gedompel is.

Covid-19-bedrog wat die afgelope twee en ’n half jaar geseëvier het, word ook deurgaans deur die Valke ondersoek.

Altesame 143 beskuldigdes kon as deel van 55 sake reeds aangekla word nadat hulle na bewering hulpfondse tydens die Covid-19-gesteel het. Altesame 33 van dié sake is reeds afgehandel met 31 skuldigbevindings en twee vryskeldings.

Dit kom neer op ʼn skuldigbevindingskoers van 94%, het Lebeya daarop gewys.

Polisiemoorde

Lebeya het vanoggend gesê die Valke het sedert sy aanstelling in 2018 altesaam 187 verdagtes in verband met moord op polisiebeamptes in hegtenis geneem. Altesame 55 van dié beskuldigdes is sedertdien skuldig bevind en gevonnis.

Polisiemoorde wat die Valke ondersoek het, sluit in die opspraakwekkende moord op lt.kol. Charl Kinnear, bevelvoerder van die Wes-Kaapse teenbende-eenheid (AGU) wat in September 2020 doodgeskiet is.

Lebeya sê die taakspan wat die Valke gestig het in reaksie op die moord op Kinnear, het sedertdien 23 bendelede in hegtenis geneem op aanklag van sameswering om moord te pleeg, moord met voorbedagte rade, die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie asook die oortreding van die Wet op die Voorkoming van Georganiseerde Misdaad.

Hy het voorts sy versekering aan Suid-Afrikaners gegee dat die Valke daartoe verbind is om straffeloosheid vir hoëvlak-korrupsie en ander misdade in Suid-Afrika te beëindig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Di ·

Die land het baie meer nodig as net die Valke. Daar is net hopeloos te VEEL sake vir hulle om alleen te hanteer. SA is ‘n kriminele hool en die SAPD skitter in hulle afwesigheid. Daar sal dringend na ander opsies ook gekyk met word om Valke by te staan met al hierdie ondersoeke. Daar is duisendse oop sake en te min mense om dit te hanteer. Van hierdie sake is al vir JARE oop en geen vervolgings is tot op hede gedoen op dit nie.

domheks ·

SLUIT NET EERS AL DIE KADERS TOE ASSEBLIEF! Dan sal SA al klaar ‘n beter plek wees.

Swerwer ·

Ai dit klink goed net jammer dat Plaasmoorde nie ook onder die prioriteits sake genoem word nie.

Waarnemer ·

Al die oud lede van die destydse SA Polisie (voor ’94 moet heraangestel word en na die valke toe gesekondeer word sodat hulle genoeg hande kan he om al daardie sake aan te pak.Al die ervare en getroue speurders wie die mag verlaat het agv die korrupsie in die nuwe bedeling.Dalk gaan daar dan genoeg hande wees om sake soos cyril se mikjoene $ en enoch se onsedelike aanranding ensv te ondersoek.

Danie ·

Die polisie of te wel regering soek nie ondervinding om sake reg te ruk nie hulle is net daar vir salaris.

efjy ·

Ek vermoed 21999 van die 22000 sake waaraan gewerk word, het al verjaar.

SjN ·

Met die sake wat telkens uitgestel word gaan dit jare neem om te vonnis.

koos ·

Ek is baie jammer om te sê dat die tempo waarteen die klas van (anc) misdaad plaasvind, is beduidend meer as suksesvolle skuldigbevindings. Doen die somme, ons verloor nog al die pad. Sal daar ooit uitkoms vir ons wees? Cry the beloved country :-(

Nie Verbaas ·

Sonder hulp van betroubare bronne gaan sake net ophoop.

Danie ·

Geen simpatie ,korrupsie was gelaat om doel te bereik.Nou wil hulle die publiek beindruk en simpatie soek.

Suid-Afrika Eerste - Vrydenker Vlakvark ·

Die Suid-Afrikaanse Kriminele Regstelsel en die parlement faal as hoekstene van demokrasie. Maar wat kan mens verwag van die ANC se National Democratic Society wat ek kortweg noem: eMzansibabwe. Tragies. ‘n Wonderlike land wat sedert 1994 omskep is in ‘n hool van kriminaliteit. Sies, ANC!

Jakes ·

Kom ons maak gou n paar somme. Teen die huidige koers waarin sake ondersoek word behoort die huidige 22000 agterstallige sake se dosiere teen 2080 afgehandel te wees. Teen 2095 behoort miskien n kwart van die sake voor die hof te dien. Wat n belaglike, maar skreiende skande is dit nie?

Suid-Afrika Eerste - Vrydenker Vlakvark ·

Intussen waai die wind alle kriminele voetspore en vingermerke en dokumentêre bewyse weg.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.