Meer as 250 renosters al vanjaar gestroop

(Argieffoto ter illustrasie: Unsplash)

Altesaam 259 renosters is in die eerste ses maande van die jaar in Suid-Afrika gestroop en dit is veral in KwaZulu-Natal waar daar onder die diere gemaai word.

Die syfer staan reeds op tien meer as wat in dieselfde tydperk verlede jaar in Suid-Afrika gestroop is.

Barbara Creecy, minister van bosbou, vissery en omgewingsake, het Maandag gesê dit lyk of stropers die afgelope tyd ook al meer van die Krugerwildtuin wegbeweeg en op private wildreservate toeslaan.

Hierdie neiging noop die nasionale regering om sy aandag nou na die ondersteuning van provinsiale owerhede en private reservate te verskuif.

Statistieke wys dat 210 renosters op eiendomme in staatsbesit gestroop is, gevolg deur 82 renosters by SANParke en 49 op private reservate en parke. KwaZulu-Natal is die hardste getref, met 133 renosters wat gestroop is. Dit is sowat as vier keer die getal renosters wat verlede jaar in die provinsie doodgemaak is (33).

“Die vraag na renosterhoring bly ’n konstante bedreiging vir ons renosterbevolkings aangesien misdaadsindikate steeds binne ons grense bedrywig is,” sê Creecy.

Sy meen vennootskappe tussen die openbare en private sektor bly die sleutel tot die bekamping van onwettige wildhandel en het inhegtenisnemings oor die afgelope ses maande aan voortgesette samewerking tussen onder andere wetstoepassingsagentskappe, die Groen Skerpioene, doeane-amptenare, die Nasionale Vervolgingsgesag en private sekerheidsmaatskappye toegeskryf.

Renosterstropery in SA
Provinsies en SANParkeJanuarie tot Junie 2021Januarie tot Junie 2022
SANParke13282
Gauteng01
Limpopo306
Mpumalanga2019
Noordwes1813
Oos-Kaap00
Vrystaat163
Noord-Kaap02
KwaZulu-Natal33133
Wes-Kaap00
Totaal249259

Volgens Creecy is internasionale vennootskappe net so belangrik.

“Benewens werk wat binne die sewe geïntegreerde natuurlewesones onderneem word, sluit die vennootskap nou die finansiële en vervoersektore in, asook transito- en eindgebruikerslande in Suidoos-Asië, veral China, Maleisië en Viëtnam.”

Creecy het ook spesiaal hulde aan eerbare wildbewaarders gebring wat ʼn toenemend gevaarlike taak op hande het.

“Hierdie mans en vroue verdien ons respek en ondersteuning.”

Sy het ook na Anton Mzimba verwys, wat onlangs in sy huis langs die Timbavati-wildreservaat doodgeskiet is. Hy was die hoofwildbewaarder by dié private reservaat en ʼn groot kampvegter teen stropery.

Die ondersoek na sy dood duur voort en die motief is nog onbekend.

Daar is egter bewerings is dat hy moontlik deur ʼn stropingsindikaat geteiken is.

Inhegtenisnemings en vonnisse

Creecy sê 69 mense is oor die afgelope ses maande in verband met renosterstropery en handel in renosterhoring in hegtenis geneem. Hiervan is 13 vermeende stropers in die Krugerwildtuin aangekeer.

Multidissiplinêre spanne het ook op verskeie handelaars toegeslaan.

“Danksy die voortgesette werk van geïntegreerde spanne by die OR Tambo-lughawe, is vier vermeende renosterhoringhandelaars tussen Januarie en Junie vanjaar in hegtenis geneem nadat hulle 56 stukke renosterhoring landuit probeer smokkel het. In een geval het samewerking tussen die Valke en owerhede in Maleisië en Katar tot die inhegtenisneming van nog ’n vermeende renosterhoringsmokkelaar by die Doha-lughawe in Katar gelei.”

Creecy sê die Valke werk tans ook saam met die Amerikaanse vis- en natuurlewediens in ’n ondersoek wat spruit uit die ontdekking van ’n verdagte pakkie by FedEx in Junie vanjaar. Die pakkie, wat vir die VSA bestem was, het agt kilogram renosterhoringsstukke bevat wat bedrieglik as sogenaamde houtkunswerke verpak is.

“’n Aantal deursoeking- en beslagleggingsoperasies het landwyd plaasgevind. Die Valke het reeds een verdagte in hegtenis geneem en daar is op 29 renosterhorings beslag gelê. Dít het tydens ʼn operasie by stoor- en pakfasiliteite in Bedfordview plaasgevind, waar renosterhorings voorberei en vir onwettige markte in Suidoos-Asië verpak word.”

In ʼn afsonderlike voorval is nog twee verdagtes ook in Junie tydens multidissiplinêre operasies in hegtenis geneem toe hulle deur lede van die snelwegpatrollie in Bedfordview voorgekeer is. Hulle was in besit van twee vars renosterhorings.

Verlede maand is ʼn voormalige wildbewaarder van Ezemvelo-parke in KwaZulu-Natal saam met nog ʼn verdagte in hegtenis geneem toe hul voertuig deursoek en twee renosterhorings gevind is. Een van dié beskuldigdes is al voorheen vir die besit van renosterhoring in die Krugerwildtuin in hegtenis geneem.

In April vanjaar is drie verdagtes tydens gesamentlike operasies in Limpopo en Mpumalanga in hegtenis geneem. Dié operasies het deel uitgemaak van pogings om geldwassery en korrupsie met betrekking tot onwettige renosterhoringhandel in die Krugerwildtuin te takel. Twee van die verdagtes wat in hegtenis geneem is, was wildbewaarders in dié park. Een van die wildbewaarders is reeds na afloop van ʼn departementele verhoor ontslaan terwyl die tweede bewaarder se verhoor voortduur.

“Altesaam 51 sake waarin 51 mense skuldig bevind is, is afgehandel. Die swaarste vonnis wat opgelê is, is 34 jaar tronkstraf, terwyl twee mans van Mpumalanga tot 28 jaar agter tralies gevonnis is vir die doodmaak van renosters en die besit van onwettige vuurwapens en ammunisie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

CJS ·

Om van naar te word! Saluut aan elkeen wat hierdie wreedaards vastrek.

Pietertjie ·

Dit sal eers ophou as al die renosters gestroop is, of as ‘n verstandige regering aan bewind kom. Laasgenoemde is ongelukkig baie meer onwaarskynlik as eersgenoemde.

Kokerboom ·

Dis ‘n skreiende skande. Wrede onreg teenoor toekomstige geslagte

Di ·

Onthoring van renosters is die enigste uitweg om hulle te beskerm. Wanneer hulle nie horings het nie is hulle van geen waarde meer vir stropers nie. Renosters kan hulle wel nie self beskerm as hulle onthoring is nie, maar dis ons engiste uitweg. Hierdie skuim sal nooit stop nie

PieterJ ·

Onthoring help nie, hulle is al in verlede gstroop vir die klein klein stompie wat oor is.

Pyl ·

Vertel my hoe jag jy onwettig renosters in ‘n reservaat in 2022 en het nog tyd om die horing ook te verwyder voordat iemand op jou afkom? Dan loop of ry jy uit die park sonder dat iemand jou sien ook.

Vertel my hoe weet jy presies waar die renoster is en het op daardie stadium ook ‘n jaggeweer by jou wat niemand gesien het toe jy die reservaat binnekom nie? Geen toegangsbeheer…

Ek wonder hoeveel van die stroppery is nie maar self die parke se werkers en eienaars nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.