Meer as 300 skape vrek in VS-haelstorm

*Waarskuwing: Hierdie berig bevat inhoud wat sensitiewe lesers kan ontstel.

Verskeie sosialemediagebruikers het intussen foto’s van haelbedekte grasperke en paaie in dié provinsie op Facebook en Twitter gedeel. (Foto: Twitter)

ʼn Jong Vrystaatse boer het Maandag minstens 300 skape weens haelstorms in die Vrystaat verloor.

Volgens Francois Wilken, president van Vrystaat Landbou (VL), is die boer se plaas tussen Edenville en Heuningspruit geleë.

Maroela Media het vroeër berig waarskuwings vir ernstige donderbuie in die sentrale en oostelike dele van die Vrystaat is Maandagoggend uitgereik.

Verskeie sosialemediagebruikers het intussen foto’s van haelbedekte grasperke en paaie in dié provinsie op Facebook en Twitter gedeel.

Tommie Esterhuizen, ʼn boer van die omgewing, het aan Maroela Media gesê dat dié boer byna sy hele kudde kwyt is.

Boonop, sê Esterhuizen, het die betrokke boer twee dae tevore sy skape geskeer en het dié wol asook talle hooibale erge reënskade opgedoen.

ʼn Jong Vrystaatse boer het Maandag minstens 300 skape weens haelstorms in die Vrystaat verloor. (Foto: Verskaf / Vrystaat Landbou)

Vrystaat Landbou sê hy was teen Dinsdag nie bewus van nog voorvalle nie, hoewel dit waarskynlik is dat daar nog verliese kan wees.

Wilken sê hoewel dit nie ʼn algemene verskynsel is nie, het boere in die verlede al groot skade aan veeverliese weens veranderende weerstoestande gely.

“Daar is boere wat al tot 1 000 skape op ʼn slag weens temperatuurveranderings, reën- of haelbuie verloor het.

“Dit gebeur ook soms wanneer skape geskeer is en dit dan skielik koud, winderig en nat is.”

Volgens Wilken probeer boere hul bes om dié soort voorvalle te beperk, maar is dit nie altyd binne ʼn mens se beheer nie.

“Boere probeer hul vee in dié omstandighede gewoonlik in store, onder bome of onderdak injaag. Dit is egter nie altyd maklik om te beheer nie.”

Gernie Botha, operasionele bestuurder by VL, sê die organisasie sal boere wat skape weens die reën- en haelstorms verloor het, uit hul hulpfonds bystaan.

Diegene wat ʼn bydrae wil maak kan VL se webblad vir die bankbesonderhede besoek en “skaapsterftes” as verwysing gebruik.

Pierre van Eden, voorsitter van die boerevereniging in die omgewing, kan ook by 083 692 9716 gekontak word indien iemand ʼn finansiële bydrae wil maak.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Herman ·

Kan die skape nie geslag wotd nie? Dan kan hy darem somige koste red.

Sandra ·

Ek is nie ‘n boer nie, en ek is Goddank bly vir dit, want ek weet hulle het ook hulle probleme. Baie probleme. So ek se die as ‘n totale leek. As jy ‘n kleinvee boer is, moet jy nie die weer berigte dophou nie?

Lize ·

Stem heeltemal saam. Arme diere. Daar was duisende waarskuwings uitgereik.

Piet parys ·

Sien jys sê self jys n leek . Goed dat jy dit darem erken . Skoenmaker hou jou by jou leus

madels ·

Hoe verskriklik! Arme man. Dit moet baie erg vir hom wees om soveel skade te hê :-(

Karina ·

Weer is onvoorspelbaar. So ‘n groot trop is ook moeilik om in ‘n stoor in te jaag. Dalk was daar nie plek in die plaas stoor nie. Ai, dit is ‘n groot jammerte die groot verlies. Ek wonder of die boer die skape kan laat slag en verkoop, hulle is tog agv koue dood en tien teen een half gevries? Ek sal so ‘n skaap vir halfprys koop! Hy moet net geslag en opgesny afgelewer word, ek sal self verpak.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.