Meer as 4 000 in Wes-Kaap kort nog plek in skole

(Argieffoto: pixabay)

Die Wes-Kaapse departement van onderwys sê altesame 4 188 leerders is steeds nie in ʼn skool in die provinsie geplaas nie. Dit is wel ʼn beduidende vermindering van die altesame 13 800 leerders wat aan die begin van die skooljaar nog nie ʼn plasing gehad het nie.

Debbie Schäfer, LUR vir onderwys in die provinsie, sê die leerders het die afgelope ruk onder die bome by Forest Village op Eersterivier saamgedrom.

“Die departement was die afgelope week in verbinding met ouers om aanbiedinge vir plasing te maak. Die helfte van die leerders is reeds by skole geplaas. Die departement sukkel nog om sommige van die ouers van die oorblywende leerders in die hande te kry omdat hulle verkeerde kontaknommers verskaf of die nommers na stempos toe gaan,” sê Schäfer.

Sy het ʼn beroep op ouers gedoen om die distrikskantoor so gou moontlik te kontak om aanbiedings vir plasing te aanvaar.

Intussen word hard gewerk om plek vir die oorblywende groep leerders te vind.

Schäfer sê die probleem spruit nie uit ʼn gebrek aan beplanning of pogings deur die provinsie nie.

“Ons waarsku al jare lank oor die druk waaronder ons is en het nog nie die nodige finansiering ontvang om die probleem te takel nie. Ons doen nietemin alles moontlik om die verhoogde getalle te akkommodeer.”

Die LUR sê bykomende onderwysers is aangestel in gebiede waar daar ʼn groot toename in leerdergetalle is. Dit het beteken meer as ʼn duisend leerders kon die afgelope week plek in skole kry.

Bykomende klasse word aangebied vir leerders wat laat geplaas is en lesplanne is vir elke leerder voorberei. Die betrokke leerder kan moontlik ook in die departement se herfsskool gehelp word.

Die departement het reeds met die Wes-Kaapse premier, die provinsiale LUR vir finansies en die tesourie in die Wes-Kaap vergader om dringend oplossings vir die gebrek aan plek te probeer vind.

Schäfer sê die Menseregtekommissie (MRK) het intussen aangebied om in te gryp oor ʼn groep leerders by Rosendal House. Sy sê die groep het twee weke gelede die departement uiteindelik toegang gegee tot sekere inligting oor die leerders, maar dat dit nie voldoende is om hulle te plaas nie.

“Ons het bewyse nodig van watter graad hulle geslaag het en die besonderhede oor hulle vorige skole.”

Die MRK gaan nou help om al dié besonderhede te bekom.

Schäfer sê leerders sal almal geplaas word, maar dat dit nie die langtermynprobleem van onvoldoende finansiering oplos nie. Sy sê die nasionale tesourie moet onderwys prioritiseer en dat politiekery nie in die pad van leerders se toekoms mag staan nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Di ·

Ja hoekom gebeur dit? Honderde skole is al afgebrand of verwoes en net so gelaat. Geen nuwe skole word gebou nie en die aantal kinders word net meer en meer!

Sonia ·

stuur die betrokke families terug na die provinsies vanwaar hulle deur die ANC ingevoer is na die WK vir politieke doeleindes dan sal die getalle vinnig sak

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.