Meer as 4 miljoen SA’ners het reeds ID-slimkaarte

'n Destydse foto toe president Jacob Zuma sy slim ID gekry het. Foto: Siyabulela Duda/GCIS

‘n Destydse foto toe president Jacob Zuma sy slim ID gekry het. Foto: Siyabulela Duda/GCIS

Tot op hede het meer as 4 miljoen Suid-Afrikaners al ID-slimkaarte ontvang, het Malusi Gigaba, minister van binnelandse sake, Vrydag gesê.

“Ons het tot op datum 4,1 miljoen ID-slimkaarte uitgereik en het verlede jaar ons teiken bereik om 2,2 miljoen ID-slimkaarte uit te reik. Ons teiken is om hierdie jaar nóg 2,2 miljoen slimkaarte uit te reik,” het Gigaba tydens sy begrotingsrede in die parlement gesê.

Volgens Gigaba moet nog 38 miljoen groen ID’s oor die volgende paar jaar met slimkaarte vervang word. “Kantore wat regstreekse data-opnames kan doen het van 140 na 178 vermeerder en al hierdie kantore aanvaar nou betalings in kontant en met krediet- en debietkaarte,” het hy gesê. “Maar selfs met 178 gemoderniseerde kantore sal 38 miljoen en meer slimkaarte ʼn enorme uitdaging wees.”

Die departement se e-stelsel is vroeër vandeesmaand van stapel gestuur waardeur landsburgers aanlyn vir amptelike dokumente kan aansoek doen en dit dan by hul bank gaan afhaal. “Vier bankgroepe het met ons ʼn samewerkingsooreenkoms aangegaan om hierdie diens aan te bied en dit word tans by 11 banke in Gauteng en een in die Wes-Kaap gedoen,” het Gigaba gesê.

“Tot en met gister [Donderdag] het 8 053 aansoekers die e-stelsel gebruik om vir ID-slimkaarte en paspoorte aansoek te doen.”

Slegs aansoekers tussen die ouderdomme van 30 en 35 jaar word in dié stadium toegelaat om die aanlyn-aansoekstelsel te gebruik. Gigaba het gesê dit sal verander sodra meer banktakke aan die inisiatief deelneem.

“Wanneer ons die plan vir die ontplooiing van die e-stelsel sowel as die omskakelingsplan vir die ID-slimkaarte gefinaliseer het, sal ons die sperdatum vir die groen ID’s bepaal en nuwe riglyne aankondig.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Johann Marx ·

Om ‘n slim-ID te hê, ‘n slim selfoon te gebruik, en Quick Slim te drink…..maak jou nie slim nie, jy kan doen net wat jy wil.

Veritas ·

Die ou op die berigfoto lyk nie of hy ‘n slimkaart vashou nie. Lyk vir my na ‘n slinkskaart.

Wat-ek-lees ·

Ja-nee, kyk, of jy slim, intelligent, dom of onnosel is, die kaart sal jy kry. Daar is alreeds duidelike bewyse en ook selfs ek het een.

jakes ·

Stem! Al gesien party word so slim met daardie slimkaart hul kry ‘n kredietkaart . EERSTE ding koop hy ‘n bril om nog slimmer te wees, of lyk?.

Frederik ·

Nou, as jy gaan registreer om te stem, plak hul die ” Barcode ” op jou slimkaart en niemand kan daarna sien wie jy is nie. Klink na ‘n dom idee, die slimkaart.

joe ·

Die ou op die foto moet eerder n rooikaart kry as n slimkaart.
Ai die kontinent van ons!!

Ri ·

Die lewe is n sirkel. Ek het in 1969 ID kaart gekry (was blykbaar nie n SLIM kaart nie). Daarna blou ID boek toe groen, groen met “bar code” nou weer slim kaart. Die geld vir die slim kaarte kon beter benut word.

Lewies ·

Wat sê Openbaringe van elke mens wat ‘n nommer sal hê?

Japie Botha ·

Malusi Gigaba bedoel meer as 4 mijoen Mosambiekers het al ID kaarte gekry.

Gerd Lourens ·

Dis interessant dat selfs die domste van die dommes ook die “slimkaart” kan kry…

Tom Theron ·

Seker meestal blankes. “Sodat ons Jul beter kan dophou, my kind”

Verdinand Karel de Waal ·

Maak net seker jul inligting is reg of die Smart Id. Waar my handtekening veronderstel is staan: “unable to sign”. Nou is die vraag op wie se Id verskyn my handtekening? Hoe feilbaar is die Id? Ek het geteken met die pen op die elktroniese skerm. En geen hulp van Dept Binnelandse Sake. Dis nou al maande wat ek prober om dit uitgesorteer te kry. Plaaslike Kantore + Helplyn + Klagtelyn + Bestuurder + Min Malusi Gigaba – geen terugvoering (e-posse + oproepe + in persoon) Al antwoord wat ek kry van Richarsbaai Tak is dat hul sal terugkom na my – Nov 15 is kaart uitgereik

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.