Meer as 500 #FeesMustFall-betogers vas

Lt.genl. Khomotso Phahlane (Foto: eNCA/ Lenyaro Sello)

Lt.genl. Khomotso Phahlane (Foto: eNCA/ Lenyaro Sello)

Meer as 500 mense is in die afgelope paar weke in verband met die #FeesMustFall-betogings op Suid-Afrika se universiteitskampusse in hegtenis geneem.

Lt.genl. Khomotso Phahlane, die waarnemende nasionale polisiekommissaris, het Maandagmiddag tydens ʼn mediakonferensie gesê die talle voorvalle van geweld tydens die protesaksies is aanduidend daarvan dat “strafregtelike elemente en groepe met hul eie agendas” die #FeesMustFall-beweging geïnfiltreer het. Daar is tot op hede 567 mense in verband met 265 sake in hegtenis geneem.

“Ons merk op dat al meer betogers hul gesigte bedek om te verhoed dat hulle later geïdentifiseer kan word. Rekenaarstelsels op die kampusse word ook al meer geteiken en studente betoog op kampusse waar hulle nie geregistreer is om te studeer nie. Dit is alles aanduidings daarvan dat die groepe vasbeslote is om die protesaksies op ʼn gewelddadige en onwettige manier aan te pak, met die doel om eiendom te vernietig en ʼn oproerige omgewing te skep,” het Phahlane gesê.

Hy het gesê daar is onder meer nege betogers Vrydagaand in Braamfontein in hegtenis geneem, maar slegs vier van hulle was werklik studente.

Hy het bygevoeg dat die SAPD nie verskonend sal wees of geïntimideer sal word deur onverantwoordelike beriggewing of “propaganda” wat deur die media versprei word nie. Volgens Phahlane is talle bewerings oor die polisie se optrede, veral op sosialemedia-platforms, onwaar. Dit sluit onder meer in dat vrouestudente na bewering by hul koshuise aangeval, aangerand en lukraak geskiet is en dat ʼn student glo deur die polisie opgelaai en na Limpopo geneem is waar hy in ʼn verlate veld agtergelaat is.

“Ons het hierdie bewerings ondersoek en gevind daar is absoluut geen bewyse om dit te ondersteun nie. Die polisiebeamptes wat ontplooi is, ontken ook dat enigiemand sodanig opgetree het,” het hy gesê. “Ons plaas dit op rekord dat die SAPD nie die operasionele beheer van enige instansie van hoër onderrig oorgeneem het nie. Ons sal egter voortgaan om ons polisiëringfunksies uit te voer soos daarvoor in die Grondwet voorsiening gemaak word.”

Hy het ook ontken dat Mcebo Dlamini (32), leier van die #FeesMustFall-betogings en voormalige leier van die studenteraad van die Universiteit van die Witwatersrand (Wits), Sondag met opset in hegtenis geneem is om die #FeesMustFall-beweging te destabiliseer. “Dit is nie waar nie. Die rol van die polisie is om misdaad te ondersoek en te verhoed en om stabiliteit te handhaaf. Diegene wat misdade pleeg, sal ondersoek word en indien die nodige bewyse deur die ondersoek gevind kan word, sal inhegtenisnemings uitgevoer word,” het hy gesê.

Phahlane het verduidelik dat polisiebeamptes in baie moeilike omstandighede moet werk en het vertel van verskeie voorvalle waar die #FeesMustFall-betogers beamptes met glasbottels en klippe bestook het. Betogers het al selfs tydens betogings petrolbomme na die polisie geslinger.

“Ek wil my waardering teenoor die lede van die SAPD uitspreek wat, ten spyte van baie moeilike omstandighede, die maksimum selfbeheersing aan die dag lê en hul pligte met integriteit, ywer en professionaliteit uitvoer. Lede word deurentyd herinner om binne die grense van die wet op te tree en net die proporsionele hoeveelheid geweld aan die dag te lê soos daar in die wet daarvoor voorsiening gemaak word,” het Phahlane gesê.

“Die SAPD in al die provinsies gaan voort om die situasies op al die universiteitskampusse te monitor en ontplooi ons lede waar en wanneer dit nodig is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Ahooy ·

Sal BAIE graag wou weet hoeveel van die 567 sal skuldig bevind en gevonnis word.

Basson ·

Die terroriste onder hulle moes al 18 maande terug in hegtenis geneem gewees het op aanklag van hoogverraad. (Per definisie voldoen hulle oortredings aan die kriteria van so ‘n aanklag in my opinie)

Emile ·

Plaas hul name op ‘n nasionale register sodat voornemende werkgewers weet wie hierdie saaiers van terreur en vernietigers van eiendom is. Verskaf die lys ook aan buitelandse ambassades vir gebruik by visumaansoek-evaluering.

Jen ·

Dit gaan lankal nie meer vir hulle oor feesmustfall nie. Dit gaan oor plunder, vernietig en verwoesting. En dit sal my nie verbaas as die helfte van hulle nie eers studente is nie. Dis tyd dat hierdie slap regering hulle terug ruk aarde toe. Hulle moet beslis toegesluit en vervolg word. So ook die opstokers wat agter als sit

John ·

So, die polisie moet alles net monitor in ons land en ook die skuld dra vir alles. Die waarnemende polisiekommisaris se betogers is vermom. Hoekom sou die engeltjies dit doen. Hulle is dan so onskuldig. En wie moet die gooo opruim nadat die studente hulself verskoon het op die trappe. Kry hul ouers om dit te kom doen en ook klasloop in ‘potty-training’ vir hul stoute babas, dan sal die mode gou oorwaai.

Mense? ·

Mense? Ek glo nie die ‘meer as 500 mense’ is ‘mense’ maar eerder terroriste.

Marita Sabatier ·

Ek wil die polisie gelukwens met hulle beheersde optrede. Ek hoop al hierdie ongewensde elemente sal vasgetrek word en dat hulle verantwoordelik gehou sal word vir al die skade wat hulle aangerig het. Hulle name behoort ook aan alle hoër instansies en potensiële werkgewerks d.m.v. n register beskikbaar te wees.

Carina ·

Ek sê al van die begin af, meeste van die betogers is nie eens studente nie. As hulle nie kan bewys dat hulle wel studente is nie, neem hulle in hegtenis en hulle moet verantwoordelik gehou word vir die skade wat aangerig is. En ek stem saam met Marita, hulle name behoort op ‘n openbare register beskikbaar te wees sodat voornemende werkgewers nie sulke mense indiens neem nie. Dit geld vir die studente wat betoog en geplunder het ook. Ek sê skors die hele lot en skop hulle uit. Hulle mag nie verder studeer nie want dis duidelik hulle stel nie daarin belang nie.
As hulle alles verniet wil hê moet hulle bereid wees om ook eendag maar verniet te werk.

aj ·

Al 500 sal soos gewoonlik vry gelos word want hulle het vreedsaam betoog tot dat die polisie ontbied is. Dit is mos wat hulle verkondig(sic)

GES ·

Ek stem saam. Brandmerk die plunderaars. Dit gaan lankal nie meer oor hulle ‘eerbare’ bedoelings nie.

GES ·

Ek stem saam. Brandmerk die plunderaars. Waarsku voornemende werkgewers mbv ‘n nasionale register. Die mense se bedoelings is lankal nie meer edel nie.

Sarie ·

Gou sal hulle in martelare verander. Die liberale media sal dit uitskree en die polisie verdoem. Dan word hul verhoor teen die belastingbetaler se rekening en vrygelaat om weer te brand.

Alet ·

Ek dink dis tyd dat ons as betalende ouers en studente n saak oopmaak op die feit dat die reg op opvoeding gedwarsboom word deur betogende studente. Hulle wil duidelik nie verder opgevoed word nie maar staan in die pad van die wat wil. Dit sal great wees as ons nie nodig het om te betaal nie want elke sent moet tien keer omgedraai word maar n opvoeding is belangriker

Mens ·

Ek het van die begin af gesê nie al die ‘betogendes’ is studente nie. Ek wil myself verstout deur te sê dat ek dink 60% van hulle nie studente is nie, maar eerder elemente wat sommer van die straat af opgeskep is en vir ‘n stukkie KFC en ‘n T-Shirt (met komplimente van die EFF) staan en goed brandsteek en afbreek.

Johann Marx ·

Met ander woorde….meer as 500 “ongewenste persone wat NIE studente is nie” het die kampus van WITS binnegedring, en geweld gepleeg, eiendom beskadig en mense geïntimideer? Waarom is daar dan sekuriteit en waarom dra studente studentekaarte??

Nita ·

Wat soek die ou man van 32 op die kampus? Het hy sy studies voltooi! Het hy al sy lening terugbetaal. Hy moes in hegtenis geneem gewees toe hy sy mond die eerste keer oopgemaak het. Hy is n regte opstoker.

Trudy ·

Demokrasie? Dink nie hulle weet mooi wat dit is nie. Dink alles moet gebrand en verwoes word. Wie betaal die prys?
Onskuldige students en die belastingbetaler. Dis regtig skrikwekkend soos hulle tekere gaan. Ek glo magtelose gevoel is hoe die meerderheid voel.

Deon Koegelenberg ·

Dit is verregaande hoe hierdie oproermakers klipgooiers petreolbom gooiers en vernietegende mob toegelaat word om soveel skade aan te rig . Ek dink die polisie doen redelik goed maar hul hande is afgekap om strenger op te tree . Waars die dae toe studente n lekker pak slae ontvang het vir stoutighede

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.