Meer as 6 miljoen mense het MIV/Vigs

vigsstrikkieDie Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN) het ʼn opname vrygestel wat bevind dat nagenoeg 6.4 miljoen mense in 2012 met MIV/Vigs gediagnoseer is.

Die RGN het hul SA National HIV Prevalence, Incidence and Behaviour Survey 2012, in Pretoria bekend gestel. Meer as 38 000 mense is ondervra en 29 000 het ingestem om vir MIV getoets te word.

Die opname het bevind dat voorkoms van MIV/Vigs van 10.6% in 2008 tot 12.2% in 2012 toegeneem het. Volgens die verslag kan die toename toegeskryf word aan die kombinasie van nuwe infeksies en die suksesvolle uitbreiding van antiretrovirale behandelingprogramme. Die beskikbaarheid en gebruik van antiretrovirale verleng die lewens van mense wat met MIV besmet is.

Die voorkoms van MIV in die 15 tot 49-jarige ouderdomsgroep is 18.8%, maar is aansienlik hoër by vroue (23.2%) as by mans (14.5%).

Die verslag het bevind dat daar ʼn effense afname was in die voorkoms van MIV onder jeugdiges tussen die ouderdom van 15 en 24 jaar oud. Dit het van 8.7% in 2008 gedaal tot 7.3% in 2012.

Die MIV-voorkomssyfer onder die vroulike jeugdiges tussen die ouderdom van 15 en 24 jaar was vier keer hoër as vir mans in dieselfde ouderdomsgroep.

In vergelyking met statistiek in 2008, was daar ‘n afname in die gebruik van kondome in alle ouderdomsgroepe, buiten vir persone ouer as 50. Daar is ook ʼn toename in die hoeveelheid bedmaats vir mense wat in 2012 ouer as 15 was.

Die Gautengse departement van gesondheid het dié bevindinge Woensdag verwelkom.

Hope Papo, LUR van gesondheid, het gesê die verslag vertel ʼn goeie storie oor die werk wat die openbare gesondheidsektor verrig, en die multisektorale reaksie op MIV in die provinsie.

Hy het gesê meer mense wat MIV het leef nou langer weens die regering se antiretrovirale behandelingprogram, wat in die meeste klinieke en hospitale van Gauteng aangebied word. – SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Henrietta Klaasing ·

“Goeie storie”??? Liewe genugtig, wat sal dan ‘n slegte storie wees?? Hierdie 6 miljoen is net die tippie van die ysberg, dié wat getoets is – dis nie ‘n aanmeldbare siekte nie, so hoeveel is daar REGTIG??

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.