Meer as 60 000 Kaapstad-seweskaartjies Vrydag verkoop

HSBC Sewesrugbytoernooi (Foto: Computicket)

HSBC Sewesrugbytoernooi (Foto: Computicket)

Meer as 60 000 kaartjies vir die 2016 HSBC Kaapstad-sewesrugbytoernooi, wat op 10 en 11 Desember plaasvind, is op die eerste dag van verkope deur die publiek opgeraap.

Computicket het bevestig 60 703 kaartjies is Vrydag teen 17:00 verkoop. Die verkope het om 09:00 oopgemaak op Computicket se webwerf, in kaartjiekantore en by Shoprite en Checkers-winkels landswyd. Bykans 23 000 kaartjies is vir Saterdag se aksie verkoop en 38 000 kaartjies vir die sewesrugby op Sondag.

SA Rugby het Vrydag die rugbypubliek bedank vir die ondersteuning tot dusver en weer benadruk dat Computicket die enigste amptelike kaartjiediensverskaffer is vir aanlynverkope en deur hul takke by Checkers en Shoprite.

Kaartjies kos tussen R150 en R250 vir ʼn volle dag van rugby-aksie.

“Dit is indrukwekkend om die ondersteuning van die publiek te sien en mens kan byna reeds die opwinding voel,” het Jurie Roux, uitvoerende hoof van SA Rugby, gesê. “Daar is nog kaartjies beskikbaar, maar dit verkoop só vinnig, dat ons ondersteuners maan om nou kaartjies te koop om teleurstelling te voorkom.”

Roux het gesê hulle is bewus daarvan dat daar ander persone is wat kaartjies teen hoër pryse verkoop, maar SA Rugby kan nie die geldigheid van dié kaartjies waarborg nie.

Kaartjies is beskikbaar vir ʼn alkoholvrye gesinspawiljoen aan die noordelike kant van die Kaapstad-stadion, reg langs ʼn sogenaamde “Kiddies Village” (ingang vir hierdie speelgebied is verniet), terwyl die suidelike pawiljoen as die “partytjiepawiljoen” bekend staan. Daar is ook ʼn bykomende biertuin en nog Food Lover’s Market-stalletjies vir vanjaar se toernooi bygevoeg.

Privaat suites is reeds uitverkoop, maar ʼn allesomvattende pakket, teen ʼn minimum van R2 995 per persoon per dag (BTW uitgesluit) is steeds beskikbaar by SA Rugby. Kontak Mingon van Rooyen by [email protected].

Daar is ook pakkette beskikbaar vir ondersteuners uit die buiteland of persone wat van buite Kaapstad reis deur SA Rugby Travel. Megapro het ondersteunerspakkette beskikbaar en dit kan slegs vir Saterdag gekoop word (R2 295 per persoon, BTW uitgesluit), of ʼn naweekpakket (R3 700 per persoon, BTW uitgesluit). Kontak [email protected].

Die MyCiti-busdiens sal spesiale dienste bied om parkering- en verkeersprobleme rondom die stadion te verlig. Dié skedules sal binnekort beskikbaar gemaak word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.