Meer as 700 in SA het nou Covid-19

Dr. Zweli Mkhize. Foto: Elmond Jiyane

Die getal bevestigde gevalle van die nuwe koronavirus oftewel Covid-19 in Suid-Afrika staan nou op 709. Dié getal het Dinsdag op 554 gestaan. Dit is ’n toename van 27%. Mkhize het egter erken dat dit soms langer vat vir toetsuitslae om bekend te word en dat die toename nie altyd ’n ware uitbeelding is van hoeveel meer mense die afgelope dae aangesteek het nie.

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, het Woensdagoggend in ’n onderhoud met die SAUK gesê die getal gevalle van Covid-19 in Gauteng het oornag met 64 gestyg. Die Wes-Kaap het op sy beurt nog 61 gevalle aangemeld terwyl KwaZulu-Natal en die Vrystaat onderskeidelik 11 en 15 nuwe gevalle aangemeld het. Mkhize het gesê die departement verwag dat al meer gevalle aangemeld sal word.

Die minister het gesê die Vrystaat, veral die Mangaung-gebied, is in dié stadium ’n bron van kommer. Dit volg nadat vyf buitelanders onlangs ’n kerkbyeenkoms van sowat vyf dae in dié gebied bygewoon het. Die buitelanders het afsonderlik van Amerika, Frankryk en Israel gekom en voor hul terugkeer simptome getoon en eindelik positief vir die virus getoets. Hulle het gedurende die byeenkoms in aanraking met sowat 300 mense gekom. Die departement spook nou om dié mense op te spoor en vir Covid-19 te toets. “Dit begin reeds ’n episentrum skep,” verduidelik Mkhize.

In Gauteng is die meeste gevalle in Johannesburg en veral Sandton aangemeld. Minder gevalle is in Ekhurhuleni en Tshwane aangemeld.

Johannesburg. Argieffoto: Legendtours

In die Wes-Kaap is die meeste gevalle in Kaapstad aangemeld.

Volgens Mkhize het drie dokters tot op hede positief vir die virus getoets. Dié dokters is van Limpopo, Mpumalanga en die Vrystaat. Die minister verduidelik dat die dokter van Limpopo egter onlangs gereis het en dus vermoedelik die virus in die buiteland opgedoen het en nié deur die behandeling van pasiënte nie.

Twee pasiënte word tans in die waakeenheid van ’n hospitaal behandel. Geen sterftes is in dié stadium aangemeld nie.

Soveel pasiënte herstel

Die minister het verduidelik dat die departement konserwatief omgaan met die aantal pasiënte in Suid-Afrika wat van Covid-19 herstel.

Volgens Mkhize is altesaam vyf pasiënte reeds virusvry verklaar. Dit beteken dat hulle nie meer simptome toon nie en negatief getoets het toe hulle weer vir die virus getoets is.

Mkhize het verduidelik dat hoewel baie van die ander pasiënte herstel en sommiges selfs nie meer simptome toon nie, hulle steeds positief vir die virus toets en dus nog aansteeklik is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

007 ·

Hoekom sê julle nie watse kerk nie. Dis die Methodist Church in die middestad van Bloemfontein. Ek gaan ook kerk toe en het vanoggend n werk verloor nadat ek al die kliënt se materiaal gekoop het, het hy gesê dis beter dat ek wegbly omdat hy nie weet watse kerk dit is nie. Hy is bang ek was in daardie kerk.

Plaaskind ·

Help my asb reg – maar hoe is dit moontlik dat die ander 23 gevalle se provinsies onbekend kan wees?

antieke antie ·

hulle is miskien nog in die buiteland en moet nog ingebring word na die vakansie hotel…. daai eienaar is verseker van n staatsinkomste vir lank…

Sandra ·

Ek wil nou nie ‘n doemprofeet wees nie, maar as ek dinge so kyk, hier by my werk ens, en gister by die supermark, dink ek nie Suid Afrika is out of the woods met die ding nie. Mense in Suid Afrika het nie die dissipline soos ander lande, bv Italie nie, waar dit wetlik toegepas word. Ek sien hoe mense in die isolasie tyd wil he ander moet aan hulle huise kom werk, ens. So ons sal nou sien hoe gedissipinieerd is ons land se mense van Vrydag af.

Tienie ·

Die ANC het opgeslip….

Cyril moet verantwoordelik gehou word…..

Punt

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.