Meer as 750 vas ná Kaapstad-polisie toeslaan

Argieffoto

Argieffoto

Meer as 750 mense is die afgelope naweek in Kaapstad in hegtenis geneem vir ʼn verskeidenheid oortredings.

Kapt. FC van Wyk, polisiewoordvoerder, het gesê meer as 450 verdagtes is in Khayelitsha vasgetrek vir verskeie aanklagte, waaronder moord, gewapende roof, verkragting, diefstal en huisbraak.

“Altesaam 18 verdagtes is vir moord in hegtenis geneem, tien vir verkragting, vier vir besigheidsroof, drie vir huisbraak en ʼn allemintige 75 verdagtes vir aanranding met die bedoeling om ernstig te beseer,” het Van Wyk gesê. “Die meeste van die aanrandings het plaasgevind terwyl mense alkohol gebruik het en daarom het die polisie sy sjebien-operasies verskerp. Daar is klopjagte op 13 sjebiens gedoen en op 471 liter alkohol beslag gelê, terwyl agt verdagtes in hegtenis geneem is vir die onwettige handel in alkohol.”

Van Wyk het gesê die polisie het ook swaar toegeslaan op dwelmhandelaars en daar is beslag gelê op 57 gram tik, 202 gram dagga, 11 mandrax-tablette en twee onwettige vuurwapens. “Hierdie operasies het ook die inhegtenisneming van 126 verdagtes tot gevolg gehad,” het hy gesê.

Die polisie het ʼn 49-jarige man in Gordonsbaai vasgetrek vir die besit van 15 sakke perlemoen ter waarde van R500 000.

Intussen het polisie in Nyanga meer as 300 verdagtes vasgetrek vir onder meer dwelmhandel, onwettige drankverkope en misdaad teen vroue en kinders. Ses gesteelde voertuie is in Bishop Lavis, Guguletu, Nyanga en Philippi-Oos gevind, terwyl daar op ses onwettige vuurwapens beslag gelê is.

“Hierdie groot sukses is die resultaat van polisiebeamptes se ywer en waaksaamheid, asook inligting wat deur verantwoordelike gemeenskapslede gedeel word,” het Van Wyk gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

KarooKlong ·

Puik resultate. Baie geluk Kapt. van Wyk en die SAPD. Ek hoop die ywer en waaksaamheid is blywend van aard.

CHRISTA ·

Ek dink die Kaapstadse polisie moet die res van ons land se polisie oplei, dan sal hulle dalk meer daarin belangstel om misdaad te beveg (soos die Kaapstadse polisie)!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.