Meer as 80 aanvalle vanjaar al op Tafelberg

Kaapstadse owerhede sê daar was vanjaar meer as 80 aanvalle op die bergpaadjies (Foto: Verskaf)

Talle ondersteuners van die Tafelberg Nasionale Park (TNP) is nou keelvol vir die vlaag aanvalle wat besoekers aan die gewilde reservaat teister en het die afgelope week opgeruk om teen die ongebreidelde misdaad daar te betoog.

Maroela Media het vroeër berig ʼn petisie wat SANParke versoek om misdaad op Tafelberg dringend te pak, is teen Vrydag al deur 5 500 mense onderteken.

Vriende van Tafelberg, ʼn openbare bewaringsforum wat die petisie van stapel gestuur het, sê die TNP – een van Afrika se mees besoekte landmerke – word al geruime tyd deur misdaad geteister en dat SANParke ʼn verantwoordelikheid het om dié probleem hok te slaan.

Mary Lloyd (75) was onder die sowat 50 betogers wat bymekaargekom het om haar stem dik te maak. Sy was kort gelede ook een van die talle misdaadslagoffers op die berg.

Lloyd vertel dat sy op haar daaglikse staptog langs die berg se voetpaadjies was, toe twee mans skielik op haar afstorm. Hulle het haar foon gegryp en gedreig dat hulle haar vingers gaan afsny toe sy nie die ringe aan haar hand vinnig genoeg kon verwyder nie.

“Ek voel kwaad omdat hierdie misdadigers my vryheid op die berg weggeneem het. Ek voel nie meer veilig as ek hier kom stap nie,” het sy by die betoging gesê.

Kaapstadse owerhede sê daar was vanjaar meer as 80 aanvalle op die bergpaadjies; die meeste daarvan sedert Augustus. Altesame 10 voorvalle is in Augustus aangemeld, asook ses in September en 13 in Oktober. Dit is byna 30 aanvalle in slegs drie maande.

Drie reddingswerkers is ook tydens ʼn noodreddingsoperasie in die park beroof.

Gidse raak toenemend bekommerd om stappers teen dagbreek en skemer op die berg te begelei.

‘Ons wil veilig voel’

Polisiebeamptes en parkbewaarders doen nou spesiale patrollies in die park, terwyl hommeltuie en helikopters ook om die 1 086 m hoë plato gons in ʼn poging om veiligheid te verbeter.

Volgens owerhede is verskeie inhegtenisnemings reeds gedoen. Hulle doen egter ʼn beroep op stappers om staproetes altyd in ʼn groep en in daglig aan te pak.

Kathy Leverton (39), ʼn toergids, sê sy beskou die bergpaadjies as haar “kantoor”, maar dat dit nou “vreesaanjaend is om te gaan werk”.

“Almal wil veilig voel om na hul kantoor toe te gaan,” het sy gesê.

“Ek moet nou twee keer dink wanneer mense toere vir sonsopkoms wil bespreek, want dit beteken om soggens in die donker rond te wag.”

Andy Davies, voorsitter van Vriende van Tafelberg, sê dit is “onaanvaarbaar om te bang te wees om by ons berg op te klim”.

“Lede van die publiek moet opstaan ​​en veg vir die reg om ons berg veilig te gebruik.

“Vir die inwoners van die stad is die berg ʼn plek van vrede en rustigheid waar ons van ons werk- en lewenstres kan ontsnap,” het Davies gesê.

Vriende van Tafelberg, ʼn openbare bewaringsforum wat die petisie van stapel gestuur het, sê die TNP word al geruime tyd deur misdaad geteister(Foto: Verskaf)

“Dit is ook ʼn baie, baie belangrike toeriste-aantreklikheid. En dit is ongelooflik belangrik dat ons na die berg omsien en dat ons verseker dat enigiemand wat die berg besoek, veilig voel.”

Die park lok jaarliks duisende toeriste, talle daarvan buitelanders.

JP Smith, Kaapstad se burgemeesterskomiteelid vir veiligheid, sê tot 240 000 mense in Kaapstad verdien ʼn inkomste ​​uit toerisme.

“Hoewel ʼn aanval op ʼn toeris nie belangriker is as ʼn aanval op ʼn plaaslike inwoner nie, hou dit ʼn bykomende risiko vir die stad in,” het hy gesê.

Suid-Afrika het vier miljoen toeriste-aankomste in die eerste ses maande van die jaar gehad. Die bedryf lewer ʼn groter bydrae tot die ekonomie as landbou.

Toenemende misdaad wek egter landwyd kommer en die polisie doen onder meer ook patrollies op die snelweg vanaf Pretoria na Sun City en ander nabygeleë nasionale parke nadat gewapende aanvallers onlangs busse met buitelandse besoekers aangeval het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Johann ·

Gedagte…sou van die swernote gevang word stel ek voor dat hulle dalk net iewers op ‘n paaidjie vashaak en dalk net effe semmi van n hoogte op die berg neerdaal na benede?

Gerhard ·

Dit is ‘n absolute skande dat die kokkerotte ons hele lewe so inperk, mense moet hulle in hul huise toesluit saans, te bang om uit die huis uit te gaan, mense kan nie meer gaan stap wanneer hulle wil nie, fietsryers kan nie meer net gaan fiets ry nie, wat ‘n gemors. Ons regering en SAPD misluk totaal en al ons burgers, wat hulle salarisse betaal. Dit maak my siek as ek al die misdaadberigte sien.

Danie ·

No wat nou. Die DA spog so oor hulle die Kaap so goed bestuur en maak groot bohaai oor die ander provinsies se veiligheid,maar wat doen hulle omtrent Tafelberg se veiligheid.

minnie muis ·

laat paar manne met honde die plek patroleer wat sweepe ens dra en die wetters pak gee

skurweberg ·

Moenie doen wat jy wil doen, net omdat jy die fondse het nie. Die spreekwoord “verkeerde plek verkeerde tyd” is ook op jou van toe passing. Bly weg as jy net twee of een is. Loop in geroepe met wapens, al is dit net ‘n kierre.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.