Meer as 800 op Mpumalanga-paaie vasgetrek

teerpad-pad-paaie-platteland

Argieffoto (Foto: Nextvoyage/Pexels.com)

Minstens 848 motoriste is sedert die begin van Desember vir verskeie verkeersoortredings op paaie in Mpumalanga in hegtenis geneem.

Zandile Mandlazi, woordvoerder van Mpumalanga se departement van gemeenskapsveiligheid, sekuriteit en skakeling, het gesê 464 van dié bestuurders is vasgetrek omdat hulle glo onder die invloed van alkohol bestuur het, 122 omdat hulle glo die spoedgrens oorskry het, 116 vir beweerde nalatige en roekelose bestuur en ander is in hegtenis geneem vir verskeie oortredings soos die oorlading van hul voertuie en vervalste dokumente.

“Altesaam 37 385 boetes is ook uitgereik omdat bestuurders onder meer die spoedgrens oorskry het, ander motors oor ʼn sperlyn verbygesteek het, verkeerstekens verontagsaam het, op die snelweg stilgehou het, selfone gebruik het terwyl hulle bestuur en ook hul voertuie oorlaai het. Minstens 56 passasiers is ook beboet omdat hulle nie hul veiligheidsgordels vasgegespe het nie,” het Mandlazi gesê.

Boetes is ook uitgereik aan motoriste omdat hulle motors bestuur het waarvan die windskerms gekraak is, die ruitveërs gebreek is, bande afgeloop is en flikker- of ander ligte nie reg werk nie.

Sedert die begin van Desember is daar sowat 750 padongelukke in die provinsie aangemeld met meer as 150 mense wat dood is.

“Daar is egter ʼn 11,3%-afname in noodlottige ongelukke in vergelyking met dieselfde tydperk die vorige jaar,” het Mandlazi gesê.

Die meeste ongelukke was op die N4, die R40 en die R573. Ander paaie waarop daar ongelukke voorgekom het, sluit die N2, R538, N11, R38, N12 en R555 in.

Pat Ngomane, die LUR vir gemeenskapsveiligheid, sekuriteit en skakeling, het gesê hy glo en hou vol dat die meeste ongelukke deur die oorskryding van die spoedgrens, gevaarlike verbysteek en roekelose bestuur veroorsaak word.

Ngomane meen verder dat die skuldiges vervolg en streng vonnisse opgelê moet word om ʼn waarskuwingsboodskap aan ander vermeende oortreders te stuur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

PJ ·

Ek hoop dat die geld ten minste aangewend sal word om die uiters haglike toestand van hulle paaie aan te spreek.

hesterbester ·

Ons was oor kersnaweek in Mpumalanga en het met groot skok gesien hoe mense bestuur. dis skrikwekkend steek verby op n sperstreep voor n blinde hoogte en sommige voertuie was glad nie padwaardig nie. en daardie paaie is in n uiters swak kondisie die bakkies was gepak soos berg Kilimanjaro met junk wat hulle vervoer en geen een van hulle het boetes gekry nie? wonder hoekom

Elize Louw ·

Absoluut belaglik die foto wat by die berig is, die paaie lyk defnitief nie so nie, Die paaie is in so ‘n toestand, wend geld aan om die “potholes” van amper 2000 in net 13 km te herstel, dan kan julle ‘n positiewe berig plaas

Boet Fasie ·

Die 800 sluit nie motoriste in wat sommer kontant langs die pad betaal het vir die oortreding nie .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.