Meer as 85 in Mpumalanga vas wat regulasies oortree

(Foto: Unsplash)

Die provinsiale polisiekommissaris in Mpumalanga het ʼn waarskuwing aan inwoners gestuur wat die afsonderingsregulasies, om die verspreiding van Covid-19 te bekamp, verontagsaam.

Lt.genl. Mondli Zuma het dié waarskuwing gerig ná meer as 85 persone in die provinsie in hegtenis geneem is op aanklag dat hulle die rampbestuurregulasies onder koronavirusvlak 3 oortree het.

“Ná pres. Cyril Ramaphosa die regulasies aangekondig het, is daar van inwoners verwag, en hulle is aangemoedig en gemaan om die regulasies streng na te kom om die verspreiding van Covid-19 te voorkom. Die polisie en ander wetstoepassers het ʼn mandaat ontvang om die wet af te dwing en seker te maak dat almal aan die regulasies voldoen,” het kol. Donald Mdhluli, woordvoerder van die polisie, gesê. “Versuim om dit te doen, kan tot inhegtenisneming lei.”

Die polisie in Mpumalanga het 49 persone in hegtenis geneem omdat hulle versuim het om ʼn gesigmasker in ʼn publieke ruimte te dra. Minstens 35 persone is aangekeer omdat hulle die aandklokreël tussen 21:00 en 06:00 verbreek het. Twee persone is in hegtenis geneem nadat hulle alkohol vervoer of verkoop het.

“Die persone, wat in hegtenis geneem is, is swaar boetes opgelê en die publiek kan nog inhegtenisnemings te wagte wees indien enigiemand die regulasies oortree,” het Mdhluli bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.