Meer as 90 apteke landwyd geplunder

Argieffoto (Foto: stevepb, Pixabay)

Meer as 90 apteke is in Gauteng en KwaZulu-Natal geplunder tydens onluste wat sedert die naweek in dié provinsies woed. Dít terwyl nooddienste en inentingsentrums se bedrywighede sedert Maandag ontwrig word.

Vincent Tlala, hoof uitvoerende beampte en registrateur van die Suid-Afrikaanse aptekersraad, sê entstowwe vir Covid-19 en kroniese medisyne is onder die items wat deur vandale gebuit is.

“Indien hierdie medisyne gebruik word sonder behoorlike raad en dosering kan dit skadelike gevolge vir mense se gesondheid inhou. Ons doen ʼn beroep op lede van die publiek om slegs medisyne wat deur ʼn apteker uitgereik word, te koop of te gebruik.”

Volgens Tlala is die meeste van die geplunderde apteke in private besit wat talle werksverliese tot gevolg sal hê.

“Ons is bekommerd dat burgers nie behoorlike farmaseutiese diens sal geniet nie. Ons is verder teleurgesteld oor die moontlikheid dat talle mense hul lewensbestaan weens hierdie plundery gaan verloor.”

Intussen het pres. Cyril Ramaphosa Woensdag tydens ʼn vergadering met die leiers van politieke partye benadruk dat verskeie dele van die land dalk binnekort ʼn tekort aan basiese benodigdhede soos kos, brandstof en medisyne kan beleef. Politieke partye wat verteenwoordig was, sluit in die DA, Inkatha Vryheidsparty (IFP), die VF Plus en die Afrika Christen Demokratiese Party (ACDP).

“Politieke leiers het gevolglik gevra dat die land se hoofpaaie deur wetstoepassingsowerhede beveilig word om te verseker dat dié goedere veilig vervoer kan word,” het Tyrone Seale, woordvoerder vir die president, Woensdag in ʼn verklaring gesê.

“Hulle het ook gevra vir beter samewerking tussen die polisie, weermag en private sekerheidsdienste.”

Die VF Plus sê in ʼn verklaring dié party het spesifiek gevra dat daar selfs weer 75 000 soldate ontplooi word soos in ʼn stadium verlede jaar om die inperkingsregulasies af te dwing. “Die 2 500 wat tot nou toe ontplooi is, is veels te min. Die huidige Rampbestuurswet en die heersende aandklokreël van 21:00 tot om 04:00 gee die president reeds genoeg mag en bevoegdheid om sterk op te tree en indien die soldate ontplooi word, is dit onnodig om ʼn nasionale noodtoestand te verklaar.”

Ramaphosa het dié voorstelle verwelkom en gesê die regering oorweeg dit tans om nog meer weermaglede te ontplooi.

Bly kalm

Solidariteit en AfriForum het ook ʼn beroep op hul lede gedoen om kalm te bly en by AfriForum se buurtwagte of by ander gemeenskapsveiligheidstrukture aan te sluit.

Volgens Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, het die faksiegevegte binne die ANC wat aanvanklik tot die plundery aanleiding gegee het, ʼn platform gebied vir wetsoortreders om die situasie te misbruik om te steel en te buit.

Hy sê egter dat mense nie bloot hul veiligheid en dié van hul gesinne en gemeenskappe aan die polisie moet oorlaat nie.

“As jy jouself en jou gesin kan beskerm, kan jy ook jou bure beskerm. As jy jou bure beskerm, kan julle saam julle gemeenskap beskerm,” het Buys gesê.

“AfriForum het die afgelope paar jaar baie hulpbronne daarin belê om gemeenskapsveiligheidstrukture tot stand te bring en beskik reeds oor 159 buurtwagte, ʼn netwerk van beheerkamers, ʼn landwye radionetwerk, 12 500 buurtwag-vrywilligers, ʼn lugvleuel met 53 hommeltuig-vlieëniers en goed opgeleide personeel en vrywilligers. Daarbenewens werk AfriForum saam met ʼn netwerk van ander buurtwagte, GPF-strukture, sekerheidsmaatskappye en op talle plekke met plaaslike polisiestasies,” het Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Elinette ·

Sjoe, maar die mense is “honger” ………. Hulle het maar seker die apteke geplunder van sooibrand- en diarree-medikasie nadat hulle die TV’s, wasmasjiene, yskaste, sitkamerbanke en dies meer opgeëet het, omdat hulle so verskriklik ekonomies onderdruk was en HONGER was.

Persheks Adri ·

Ja Cyril nou eers raak jy bekommerd! Binnekort sit ons almal sonder kos, medisyne en brandstof en wat ookal deur JOU mense wat nie dink aan môre nie!

Johanncb ·

Ek kan nie verstaan dat die polisie en weermag nie traangas gebruik om die stropers uiteen te jaag nie! Hulle toon geen respek vir die owerhede nie! Die owerhede tree dan glad nie op nie!

Strandloper ·

Die eenigste logiese veduideliking is dat hulle dit self gereel het!

Bytjienw ·

Mnr Ramaphosa jy is uit voeling uit met die werklikheid! Dis nie ‘n kwessie van KAN hê nie maar wel van GAAN hê!

Kokerboom ·

Mnrr Ramaphosa ek het nog nerens gesien dat u verskoning vra vir die onverskoonbare optrede van u kabinet en die skaamtelose boewery van anc lede!!Skaam julle Dis onvergeeflik!

Anel ·

Met al die gemors wst aangaan kan die grendel reël maar op gehef word. Almal moet terugkeer na hul poste en begin WERK. En die wat nie wil nie moet maar vervang word deur die duisende wat nou hul werk verloir het agv al die plundery. Daar is duisende onskuldiges wat met graagte sal wil werk.

Stefaan ·

Vandat die bure ongevraagd n 10vt muur tussen ons aangebring het hy alle moontlikheid van hulp van my kant verbeur

Kensy ·

Kyk tog na die groter prentjie. Die moeilikheid makers verteenwoordig nie die meerderheid Afrikaaners nie! Hierdie is n geleentheid vir samehorigeheid en nie om verder haat te saai nie!
Ek haal my hoed af vir instansies soos “I know A Gay” wat oplossings soek en posetiewe gedrag inspereer.
Kom nou Suid Afrika – kyk tog vir n slag vorentoe! Bou aan n toekoms! of gaan ons nou weer vir die volgende 25 jaar nog foute begaan om die OU foute reg te probeer trek????

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.