Meer as helfte van gesaaides in Wes-Vrystaat in gedrang

Vloedskade op ‘n plaas tussen Hoopstad en Hetzogville. (Foto: Verskaf)

Minstens 60% van gesaaides in die Wes-Vrystaat is tans in die gedrang weens erge vloedskade. Die krisis is ook reeds onder hooggeplaaste belanghebbendes se aandag gebring in ’n poging om staatshulp in te roep.

Volgens die hoof van die Vrystaatse departement van landbou is die saak aan die provinsiale regering se uitvoerende komitee voorgelê.

Vrystaat Landbou (VL) sal ook Dinsdag ʼn vergadering met die LUR’e van landbou, polisie, paaie en vervoer bywoon om die verswakkende padinfrastruktuur en oorstromings te midde van groot reën in die provinsie te bespreek.

“Dringende ingryping gaan nodig wees om te help om vloedgeteisterde boere in die Lejweleputswa-distrik op hul grond te hou,” sê Jakkals le Roux, VL se verteenwoordiger vir die Nala- munisipale distrik wat die groot mielieproduserende streke van Wesselsbron en Bothaville insluit.

Erge vloedskade is in die Tokologo- munisipale distrik tussen Hertzogville en Christiana, die Tswelopele- munisipale distrik tussen Bultfontein en Wesselsbron, sowel as die Masilonyana- munisipale distrik aangemeld waar ʼn mynuitskotdam se walle gebars en groot dele plaasgrond oorstroom het.

VL doen nou ’n beroep op die plaaslike distriksrampbestuursbeampte van die Lejweleputswa-distrik om personeel te mobiliseer om ʼn assessering van die omvang van die skade te doen.

Intussen het talle Vrystaatse boere slapelose nagte.

Le Roux vertel dat omvattende dekkingsversekering nie meer bestaan nie en boere moet spesifiseer of hulle vir hael, ryp, sprinkane en/of chemiese skade verseker. Daar kan ook nie vir oorstromings en droogtes verseker word nie en boere kan slegs insetkosteversekering bekom waar ʼn produksielening aangegaan word om ʼn gewas aan te plant.

“Selfs al droog dit genoeg uit ná geskiedkundige rekordhoë reënval in baie dele van die Vrystaat, is dit te laat om mielies, soja en selfs sonneblomme te herplant,” sê Le Roux.

“Waar gewasse [wel] oorleef, ding dit mee met ʼn sterk onkruidgroei met alle kunsmis wat weggeloog het en dus duur blaarvoeding of top-bemesting vereis om ʼn ordentlike oes te behaal. Baie boere wag steeds dat watervlakke daal sodat hulle in hul lande kan kom om die skade behoorlik te bepaal.

“Benewens moontlike belastingverligting-ingrypings van ʼn regering wat sonder kontant sit, doen VL ʼn beroep op landbou-ondernemings, banke en versekeringsmaatskappye om ook met maniere vorendag te kom om hul lojale kliënte op hul plase te help hou, aangesien staatshulp alleen nie sommige boere sal help nie.”

Maroela Media het vroeër berig TLU SA het Woensdag voorstelle aan die Vrystaatse departement van landbou gestuur om boere by te staan wat grootskaalse skade weens oorstromings en haelstorms gely het.

Dié organisasie versoek onder meer dat landbougemeenskappe wat die swaarste getref is tot rampgebiede verklaar moet word en dat dringende noodhulpgeld beskikbaar gestel word sodat boerderybedrywighede voortgesit kan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Gato ·

Nee wat die ANC regering sal nie hulp gee vir die boere nie. Hulle sal net te bly wees as van die boere misluk en self trek van sy plaas af dan hoef hulle dit nie te onteien of boewe te huur om die boere te terroriseer nie. Hulle koop mos melk, vleis en brood by die supermark so daar is niks om oor bekommerd te wees nie.

Pot se lepel ·

My arme medeboere in die Vrystaat. Maroela Media, doen bietjie navorsing en rapporteer oor die skade n die groente verbouiings area van Gauteng en Limpopo ook. Hier is groot chaos. Glo my, die Vrystaat is nie die enigste plek nie. Die hoeveld is ook versuip en baie groente lande is gedaan.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.