Meer as helfte van kinders aanlyn geboelie

Luidens die studie was meer as die helfte van kinders al die slagoffers van kuberboelies. (Foto: pixabay)

Misdadigers gebruik kinders se toenemende aanlyn teenwoordigheid as “wapen” en ʼn opname wys dat kinders toenemend die slagoffer van kuberboewe word.

Dít volgens Simon Campbell-Young, medestigter van Digimune, ʼn maatskappy wat spesialiseer in digitale risikobeskerming. Hy sê aanlyn toegang – vir enigiets van aanlyn leer tot sosialisering en oefening – is in die hedendaagse tyd nie meer opsioneel nie maar ʼn noodsaaklikheid, en ʼn digitale teenwoordigheid is ewe belangrik as ʼn gewone een.

“Ongelukkig het misdadigers wat geld wil maak en chaos in ons en ons kinders se lewe wil veroorsaak, dit in ʼn wapen verander,” sê hy.

ʼn Opname wat Digimune verlede maand onder 200 ouers gedoen het om hul mening en kommer oor aanlyn dreigemente teen kinders te bepaal, dui op kommerwekkende neigings.

Die bevindings sluit in dat:

  • Tot 51,5% van kinders al die slagoffer van kuberboelies was
  • 35% van kinders die slagoffer van kuberbekruipers was
  • 36,5% van kinders al aanlyn in die verleentheid gebring (online shaming) of die slagoffer van wraakpornografie was
  • 43,5% van kinders hul persoonlike inligting gewillig op aanlyn platforms deel
  • 54% van kinders op digitale platforms toegang tot onbehoorlike inhoud gekry het

Volgens Digimune is die bevindings waarskynlik ʼn onderverteenwoordiging van die werklike situasie – kinders is dikwels onwillig om hul ouers van ʼn kuberaanval te vertel, terwyl kubermisdadigers al hoe meer gesofistikeerd word.

Kubermisdadigers gebruik die jongste tegnologie, wag vir presies die regte oomblik om toe te slaan en is baie strategies in hul bedrywighede. Die maatskappy sê die diefstal van persoonlike inligting of die kraak van sosialemediaplatforms is voorbeelde hiervan. Omdat misdadigers hierdie inligting op die duisterweb verkoop, is dit boonop in hul beste belang dat nóg jy nóg jou kind ooit weet die diefstal of gedwonge toegang het wel gebeur.

Gevare wat ouers die meeste bekommer:  

  • Wraakpornografie of kinders wat aanlyn in ʼn verleentheid gestel word
  • Kuberboeliery
  • Toegang tot volwasse of ander onvanpaste inhoud
  • Seksuele gereedmaking
  • Identiteitsdiefstal

Digimune se opname het bevind die meeste kinders het reeds van ʼn baie jong ouderdom toegang tot aanlyn toestelle – of hulle dit nou met iemand anders deel, of hul eie toestel het.

Teen tienjarige ouderdom het sowat ʼn derde (30,5%) van kinders reeds hul eie slimfoon en 41,5% het teen daardie ouderdom toegang tot ʼn gedeelde slimfoon.

Campbell-Young sê ouers moet hulself en hul gesinne beskerm deur tegnologie as ʼn vroeë waarskuwingstelsel teen kuberboewe in te span.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Regverdigheid

Skrikwekend waar gaan ons kinders opeindig so sad.