Meer as ‘n kwart van kabinetslede het sakebelange

Pres. Jacob Zuma en adjunkpresident Cyril Ramaphosa Foto: GCIS/SAPA

Pres. Jacob Zuma en adjunkpresident Cyril Ramaphosa Foto: GCIS/SAPA

Negentien lede van die kabinet, insluitend president Jacob Zuma, het private sakebelange, het City Press Sondag berig.

Zuma se kabinet bestaan uit 72 amptenare. Volgens rekords van die kommissie vir maatskappye en intellektuele eiendom (CIPC), besit Zuma ‘n aktiewe maatskappy genaamd Michigan Investments wat in 1992 geregistreer is.

Mac Maharaj, woordvoerder van die presidensie, sê egter die maatskappy is nie in werking nie. “Ons kyk daarna om dit van die CIPC se register te verwyder,” het hy aan die koerant gesê.

Adjunkpresident Cyril Ramaphosa word gelys as lid van twee maatskappye en die direkteur van minstens 40 maatskappye.

Ronnie Momoepa, Ramaphosa se woordvoerder, sê Ramaphosa is besig om van die dag-tot-dag bedrywighede van die maatskappye te onttrek en dat hy ook in proses is om sy belange in ‘n sogenaamde “blinde” trust te sit.

Bathabile Dlamini, minister van maatskaplike ontwikkeling, Mildred Oliphant, minister van arbeid, Edna Molewa, minister van omgewingsake, Lindiwe Zulu, minister van kleinsake-ontwikkeling, Nhlanhla Nene, minister van finansies, Ngoako Ramatlhodi, minister van minerale hulpbronne, Michael Masuthu, minister van justisie, Faith Muthambi, minister van kommunikasie, Susan Shabangu, minister van vroue in die presidensie, sowel as verskeie adjunkministers het ook sakebelange.

City Press berig dat van die ministers met sakebelange gesê het hulle gaan van hulle poste in die maatskappye bedank. Ministers en lede van die parlement het tot 15 Augustus om hul sakebelange aan die parlement te verklaar.

Zizi Kodwa, woordvoerder van die ANC, sê solank die sakebelange aan die parlement verklaar word “niks hulle stop om sake te doen nie, so lank daar nie ‘n konflik van belange is nie”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.